MOSSELBAAI NUUS - 'n Tjek ten bedrae van R7 625 vanaf Stilbaai-gholfklub, ruim bydraes van talle borge en 'n veiling het Jagersbosch-dienssentrum se geldsak lekker laat bult na afloop van hul jaarlikse gholftoernooi.
Die byeenkoms op Saterdag, 23 April was as 'n fondsinsamelingsprojek aangebied en 61 spelers het ingeskryf.
As gevolg van die vrygewigheid van die borge was daar heelwat om voor te speel en die kompetisie was vriendelik, dog baie kompeterend.
Op die halfpadmerk was daar 'n watergat met boereworsrolle, water en natuurlik bier vir die dorstiges. Die gawe Jagersboschers, Johan van Rensburg, Daneel van Wyk en Eduard Fourie het heeldag seker gemaak dat elke speler wat verbykom 'n warm verwelkoming, ewe warm boereworsrol en 'n yskoue bier of water kry.
Die aand se verrigtinge het met 'n veiling afgeskop en Johan Cronjé het hom bewys as afslaer van formaat, wat behoorlik water uit 'n klip kan tap - of kontant uit 'n beursie!
Met die prysoorhandiging het elke speler 'n prys gewen en die wenner van die dag was Juandré Michaels met sy pa, Andrew in die tweede plek. Francois Taljaard het die langste set gehad.
Die klubpresident, Dave Gravett het die tjek aan Pieter Mostert, voorsitter van Jagersbosch oorhandig.
Mostert het die gholfklub en al die spelers bedank vir hul ondersteuning.
"Dit is sulke geleenthede wat Jagersbosch help maak," het hy gesê.
Pieter Mostert, Johan van Rensburg, Daleen van Wyk en Eduard Fourie het gesorg vir heerlike boereworsrolle op die halfpadmerk.
Pieter Mostert en Jolanie Taljaard (heel regs) oorhandig die eerste prys, 'n verwarmer aan Juandré Michaels. Sy pa, Andrew het die vonkelwyn namens hom ontvang. Foto: Johan Victor
Dave Gravett oorhandig die tjek aan Pieter Mostert. Foto's: Johan Victor
Elmarie Venter oorhandig die tweede prys aan Andrew Michaels.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'