MOSSELBAAI NUUS - Die winteruitklop-enkelspelkampioenskap vir 2017 het verlede week ten einde geloop toe Gert Pieterse na 'n titaniese stryd daarin kon slaag om die ervare Donny Smith die loef af te steek.
Dit is die tweede keer dat Gert hierdie gesogte titel verower het. Die afgelope 42 jaar is die kampioenskap deur die laer voorgeë oorheers as daar na die statistieke gekyk word.
Daar was 29 kampioene met 'n voorgee van 0 tot 9: 12 kampioene (voorgee 10 tot 18) en slegs een kampioen met 'n voorgee van hoër as 19.
Die gemiddelde voorgee wat oor al die jare die kampioenskap gewen het, is 8.
Woensdag
Bounty Wildsverwerking het op Woensdag, 1 November weer aan al die verwagtinge voldoen en die prystafel behoorlik laat kreun met al die heerlike vleispakke.
Die individuele stablefordkompetisie word in drie afdelings beslis. Ilze Nel (voorgee 10) het behoorlik haar hakke vir die manne gewys deur op 43 punte die wenstreep eerste oor te steek in die A-afdeling.
Johan Buys (voorgee 21) het op 40 punte verseker dat hy as kampioen in die B-afdeling gekroon word. Gert Pieterse (voorgee 25) het na sy mooi oorwinning in die uitkloptoernooi ook die C-afdeling op 41 punte ingepalm.
Die lae voorgeë het behoorlik die kompetisie oorheers en het met die oorblywende sewe pryse huiswaarts gekeer.
Wenners van Bounty Wildsverwerking se gholfdag is van links, agter: JJ Joubert, A van der Linde, A Lambrechts en W Vorster. Voor: W Stander, J Buys, I Nel, G Pieterse en A Izaakse.
JJ Joubert (voorgee 13) se 42 punte het aan hom die vierde plek besorg. Waldo Vorster (voorgee 8), Arrie van der Linde (voorgee 10) en Martin Vorster (voorgee +3) het op 41 punte prystafel toe gestap.
Die talentvolle junior, Martin Vorster, se bruto-telling van 64 houe was briljant.
Op 40 punte het die volgende spelers ook nog breed geglimlag: A Lambrechts (voorgee 11), A Izaakse (jnr) voorgee 9 en W Stander voorgee 11. Dankie Div vir'n wonderlike geborgde dag.
Saterdag
Saterdag, 4 November het 162 spelers deelgeneem aan die beterbal stablefordkompetisie. Ina Swart het met die hulp van haar spookmaat (Paul Brits) 48 punte aangeteken en sodoende koning gekraai.
Op 47 punte het Gerrit van Zyl en Jan Joubert, asook Cynthia en Anscha Zietsman die tweede en derde plekke ingeneem.
Lood Loubser het na 'n lang afwesigheid sommer gou weer sy voete gevind en saam met Merwe van Graan het hulle na die uittel op 46 punte vierde geëindig.
S Cronjé en P Brits, asook R Combrinck en M Jansson (46 punte) het verseker dat hulle die pragtige Saterdag met 'n vuurtjie by die huis kon gaan afsluit.
'n Besige November en Desember lê voor met talle geborgde kompetisies. Vroegtydige bespreking is noodsaaklik.
'n Hele klompie van ons"swaeltjielede" het reeds hulle opwagting gemaak en ons sien daarna uit om weer hegte bande met ons oorsese vriende te smee.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'