SOKKER NUUS - Op Saterdag, 22 Julie het die 'Rusland'-span van Groot-Brakrivier tydens die jaarlikse sokkertoernooi die beker huis toe gevat. Volgens 'n organiseerder van die toernooi, Nigel Crowley vorm inwoners wat in dieselfde straat woon spanne en kies dan vir die span 'n naam. "Hierdie sokkertoernooi vind reeds sedert 1990 op Groot Brak plaas," vertel Nigel.
Die sogenaamde World Cup het plaasgevind vanaf 18 Julie tot Saterdag 22 Julie. Volgens Nigel het studente met die kreatiewe idee na vore gekom. "Die manne vat 'n paar strate se sokkerspelers en elke straat kies dan vir hom 'n naam. Hierna neem die span teen die ander straat se spelers deel."
Spanne het hulself Brasilië, Duitsland, Rusland, Suid-Afrika, Engeland, Italië, Portugal en Jamaika gedoop en teen mekaar meegeding.
Nigel sê agt spanne het aan die onlangse toernooi deelgeneem. "Die spelers begin reeds vroeg in die jaar vir die toernooi oefen. Dit is iets om ons jongmense mee besig te hou omdat daar nie regtig iets anders vir die jongmense van Groot Brak is om te doen nie."
Nigel bedank die borge: Garden Route Casino, Bayloans, De Dekke Spar, Pick n Pay Groot Brak, Mosselbaai Munisipaliteit en Total Groot Brak.
"Sonder die borge sou ons nie die toernooi kon aanbied nie."
'Ons bring jou die nuutste Groot-Brak, Tuinroete nuus'