MOSSELBAAI NUUS - Hartenbos Drawwers bied op Saterdag, 2 Desember, die gewilde Ernst Louw 10km-gedenkwedloop aan. Dit begin om 07:00 en begin en eindig by Diasstrand-parkeerarea waar Hartenbos Drawwers se klubhuis geleë is.
Die wedlooproete volg 'n interessante historiese wending. Die beginpunt is by die Diasstrand-parkerarea waar the King Centric op 14 November 1903 gesink het, verby die ou Whaling Station en Kragstasie, deur die museumgronde verby die Posboom waar daar 'n moontlike verrassing op atlete kan wag, verby die stasie en regs in Blandstrand waar die atlete verby die ou Vintcentgebou en die NG Klipkerk sal hardloop.
'n Pretdraf / stap van 3km, wat geskik is vir jonk en oud, gaan ook gehou word om die hele gesin te betrek. Die pretdraf /stap begin om 07:00.
Ernst Louw
Die hart van die wedloop het begin met een van die stigterslede van Hartenbos Drawwers, oom Ernst Louw. Gedurende sy termyn as voorsitter van Hartenbos Drawwers het hy by die Velskoenwedloop op Klein-Brakrivier 500m voor die eindstreep gesterf aan 'n hartaanval.
Oom Ernst het eers op 52-jarige ouderdom begin draf en hardloop en het in die selfde jaar sy eerste Comrades voltooi. Hy het op die ouderdom van 55 jaar sy beste Comrades gehardloop in 'n tyd van 08.50.00. Op 72 jaar hardloop hy sy 19de Comrades. Drie van sy Comradeswedlope het hy klaargemaak in net oor 12 ure.
Oom Ernst het ook 'n 100-myler en 16 Twee Oseane gehardloop. Voor Oom Ernst se dood, het hy en sy seuns gesamentlik 50 Comrades-marathons klaargemaak. Hy het elke dag geoefen en alles moontlik gedoen om op 80 jaar die Comrades se Wally Hayward-rekord te verbeter as die oudste deelnemer.
Oom Ernst het ook rekord gehou van elke kilometer wat hy gehardloop het. Hy het byvoorbeeld 54 210km opgeteken met sy 16 paar hardloop skoene. Soos in 1983 kry hy 9000km uit 'n paar Nike Pegasus-tekkies.
Oom Ernst het 'n boek vir sy kinders geskryf wat heet Wat Was Is As. Die samestelling van die boek is 'n bundel van kortstories en gedigte sowel as sy autobiografie.
Hy sluit sy boek af met: "Moet jou nie in die nag deur bekommernisse laat ry nie. Elke mens behoort in 'n gelukkige stemming te leef, tot die dag van sy dood."
Daar is 'n gelukstrekkings na die wedloop met onder andere pryse soos 'n wildsrit-, haaihokduik-, salongeskenkbewys, wyn, inskrywings vir die Colour Run en vele meer.
Inskrywings
Inskrywings kan reeds op die ASWD webtuiste gedoen word, asook die aand voor die wedloop vanaf 17:00 to 19:00 en die oggend van die wedloop vanaf 05:30 tot 06:45 by die Hartenbos Drawwers-klubhuis by die Diasstrand parkeerarea. 'n Ekstra R20 is betaalbaar op die 10km vir atlete van die vorige aand of die oggend inskryf. Hartenbos Drawwers beveel dus aan dat jy voor die tyd aanlyn inskryf voor 29 November by www.aswd.co.za
Hartenbos Drawwers bedank Hyper Midas en Hartenbos Properties vir hul ondersteuning en borgskap van die wedloop. Vir meer inligting kontak Michele Schermbrucker (082 563 1750).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'