TUINROETE DISTRIK ATLETIEKNUUS - As die o/20 Wêreldkampioenskappe in Nairobi, Kenia, 'n voorgereg sou wees, kan Suid-Afrikaners met reg uitsien na die hoofgereg, die 2024 Olimpiese Spele in Parys, Frankryk.
Suid-Afrikaanse atlete het by die geleentheid in Kenia, wat Sondag, 22 Augustus klaargemaak het, goed presteer. Hulle het nege medaljes waaronder drie goud, twee silwer en vier brons verower.
Onder die gouemedaljewenners was Miré Reinstorf (18), 'n voormalige SWD-atleet en leerder van Hoërskool Outeniqua. Sy is die nuwe vrouepaalspringwêreldkampioen vir o/20's.
Shireen Noble, visepresident van Atletiek Suid-Afrika en president van Atletiek SWD, wat saam met die span was, het Dinsdag aan George Herald, susterskoerant van die Mossel Bay Advertiser gesê die span het bo verwagting presteer.
Ofskoon Covid-19 die atlete bietjie teruggehou het in hul voorbereidings, het hulle en hul afrigters voortgegaan en nie teruggesit nie.
Aanstaande jaar vind die kampioenskappe in Columbië plaas. Van hulle kry dus weer 'n kans om aan die kampioenskappe deel te neem. Die kampioenskappe is ook 'n goeie maatstaf waaraan hulle hulself kan meet met die oog op die Olimpiese Spele in 2024.
Noble het benadruk dat daar nog bietjie aan tegniek gewerk moet word en meer oefenkampe gehou moet word. As daar voortgegaan word op die huidige patroon voorspel dit goeie dinge vir die volgende Olimpiese Spele.
Volgens haar is daar baie talent onder die juniors. "Hulle moet net reg bestuur en opgepas word."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'