MOSSELBAAI NUUS - Anke Boshoff (16) se eerste herinnering van atletiek was op laerskool - senuweeagtig, maar ook opgewonde, het sy tóé al besef hoe lekker hierdie sport kan wees.
“In gr. 6 [by Laerskool Vorentoe in Groot-Brakrivier] het ek ’n liefde vir spiesgooi ontwikkel en aan my eerste kompetisies deelgeneem,” vertel sy.
Nou is sy al in gr. 11 by Curro Mosselbaai en boonop die agtste beste spiesgooier vir meisies o. 18 in Suid-Afrika. Sy het dié posisie by Atletiek Suid-Afrika (ASA) se onlangse nasionale jeug- en juniorkampioenskappe in Germiston behaal.
Weens die onsekerheid wat met enige nuwe sport of vaardigheid gepaard gaan, het sy nie dadelik van spiesgooi gehou nie, maar ná sy die werk ingesit en met die tegniek vertroud geraak het, het sy meer daarvan begin hou.
“Vandag voel ek baie meer selfversekerd wanneer ek ’n spies gooi. Ek verstaan nou die tegniek beter en my gooie is meer akkuraat. En ek geniet dit meer omdat ek sien hoe ek verbeter. Ek is ook meer ontspanne en gefokus tydens die gooi,” vertel Anke.
Anke Boshoff met die goue medalje van sy tydens vanjaar se Eden-byeenkoms gewen het.
“My gunstelingdeel is wanneer ek die spies loslaat. Alles kom in een finale beweging bymekaar en dan kan ek ook voel of dit ’n goeie gooi was, nog voor die spies land.” En natuurlik is dit vir haar bevredigend om te sien hoe die spies ver deur die lug klief.
Die Olimpiese spiesgooier en 2024-silwermedaljewenner Jo-Ané van Dyk (nou Du Plessis) is vir Anke ’n groot inspirasie en rolmodel.
Anke self het sover elke jaar vir die Eden-byeenkoms gekwalifiseer en die laaste drie jaar die voorreg gehad om aan die ASA-byeenkoms deel te neem. Vanjaar het sy die top 10 gehaal. “En hierdie jaar is ek ook vir die Curro Rising Stars-span gekies om aan Curro Podium by Pilditch-stadion te gaan deelneem.”
Vir nou is haar spiesgooi nog iets wat sy slegs op skolevlak geniet, “maar ek weet nog nie waar die pad van atletiek my kan vat nie”, sê sy.
Wanneer Anke nie spiesgooi of met ander alledaagse tienerdinge besig is nie, is perdry haar afleiding en iets wat sy vreeslik geniet.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’