MOSSELBAAI NUUS - Met prysgeld van R100 000 op die spel en van Suid-Afrika se beste mylatlete wat gaan deelneem, kan vuurwerke dié Desember met die Bestmed Eden-straatmylreeks verwag word.
Vakansiegangers, plaaslike inwoners en toeskouers kan hul regmaak vir 'n sportfeesmaal soos min.
Bestmed, een van Suid-Afrika se leidende mediese hulpskemas, tree weer vanjaar as die anker- en naamborg vir dié gewilde vakansiereeks op.
Die eerste been van die reeks word op 17 Desember in Baron van Reedestraat in Oudtshoorn aangebied en staan bekend as die Bestmed Klein Karoo-straatmyl. Die tweede been vind op die NMU George-kampus (ou Saasveld-kollege) op Woensdag 19 Desember plaas en staan bekend as die Bestmed Madibaz-straatmyl.
Hartenbos
Op 21 Desember kom Hartenbos aan die beurt met die derde en laaste been van die reeks, die Bestmed ATKV-straatmyl.
Jerry Motsau, Amos Nyonga en die opkomende ster, Ryan Mphahlele, is die groot name wat gaan meeding om die Grand Prix-titel, wat weer deur die Vrystaatse Universiteit geborg gaan word.
Dié prys gaan aan die mans- en vroueatleet wat die meeste punte oor die drie bene versamel het. Kanse dat een van die mansatlete die myl in minder as vier minute gaan aflê, is baie goed.
Trouens, as mens gaan op die vertonings van vorige vier jaar waar nie minder nie as ses droommyle gehardloop nie is, kan enigeen van Motsau, Nyonga Mphahlele dié prestasie behaal.
Ook in die vrouewedlope kan vuurwerke verwag word met Nolene Conrad, Farida Zwane, Cara du Preez en Elne Conradie wat mekaar die stryd gaan aansê.
Verskeie universiteite se topatlete en van die SWD se bestes, soos Lloyd Bosman, Godwin Heyns, Dullen Solomons en Tonya Schoeman, sal ook in aksie wees.
Die fietsry-kermesse by die NMU George-kampus, wat verlede jaar as gevolg van slegte weers afgestel moes word, is weer op die program vir 2018. Bestmed bied ook verskeie aktiveringsprogramme op van die Suid-Kaapse strande aan: 15 Desember op Oubaai en 20 Desember op Hartenbos.
Fietsry en voetslaan
Vanjaar word ook bergfiets (MTB Eliminator) en voetslaanstaptogte (hiking) op die NMU-program aangebied. Dit word weer onder die beskerming van die KKAF en in vennootskap met ASWD, Eden Fietsry, NMU, die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport, Kovsies en die ATKV aangebied. Die atletiekstraatmyle word in die volgende kategorië aangebied: sub-juniors (9-13 jr), juniors (14-19 jr), Elite/Open (20-39 jr) en 40+.
Daar is ook vanjaar weer pryse vir die eerste Eden/SWD-atlete oor die wenstreep.
Die fietsry-mylren op Oudtshoorn asook die kermesse by NMU se kategorië is: sub-juniors (o/9, o/11 en o/13); juniors (o/15 en o/17) Elite (o/19, o/23), veterane (-34) en veterane (35- 49, vet 50+).
Corne Bence, voorsitter van Eden-fietsry, is opgewonde oor die groep topfietsryers wat weer gaan deelneem. Onder hulle is die Protea-ryers Yolande de Villiers, Benino Hans, Anriette Schoeman, Louis Visser, Marcal Hendricks, Ivan Carstens, Theuns van der Bank.
Inskrywings kan aanlyn gedoen word by www.edenmiles.co.za. Alle reëlings rondom die byeenkomste en verblyf kan ook op dié webtuiste gevind word.
Vir enige navrae kontak die organiseerders deur www.edenmiles.co.za of bel Hans van der Veen 083 462 0477 of Dave van der Walt 082 7734 901.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'