SKOLENUUS - Professor Ignatius Gous, ’n spesialis in effektiewe leermetodes, noem leermetodes liewer bemeesteringstrategieë - juis omdat leer oor soveel meer as leer vir ’n toets of eksamen gaan.
Hy sê leer vir ’n eksamen is belangrik, maar dit is net ’n klein deeltjie van dit wat ons doen en moet doen om ons voor te berei vir die lewe.
Leer gebeur elke dag. En as jy kunsmatige intelligensie (KI) reg inspan, is dit van oneindige waarde.
Op die nippertjie leer vir eksamens gaan ons nie help om regtig kundig en vaardig te word nie. Daarom moet ons oor ’n lang tyd bietjie vir bietjie leer om te sorg ons ken regtig ons werk sodat dit deel word van ons kennis-krag.
“Leer gaan oor soveel meer as die inhoud. Dit is noodsaaklik vir leerders om te weet wie hulle is en hoekom hulle leer.
"Leer hou nie op na die gradeplegtigheid, ’n sertifikaat en of jy geslaag of gesak het nie. Leer is noodsaaklik op elke vlak van die lewe, hetsy jy jou vaardighede wil verbeter, van professie wil verander of jou beroep in die snelveranderende beroepswêreld toekomsbestand wil maak,” sê Gous.
Vraag en antwoord met prof. Gous
Is dit regtig prakties moontlik om lank voor eksamens te begin leer, siende dat leerders se lewens so besig en vol is?
Dit is bykans onmoontlik as ons leerprogram afhang van of ons lus is om te leer. As mens wag totdat jy gemotiveerd is om te leer, lei dit gewoonlik tot laaste minuut, deurnag paniek-leer.
Doen die volgende:
- Kry sisteme en gewoontes in plek. Top sportmense doen goed omdat hulle oefenprogramme in plek het, afsprake op vasgestelde tye met hulself en hul afrigters en spanmaats het, wat hulle nakom of hulle nou lus is of nie. Leer is dieselfde.
- Stel ’n program op. Skryf neer waaraan jy tyd spandeer - skoolgaan of klastye, sport, kultuuraktiwiteite, jou sosiale program. Kyk ook wat jy doen wat nuttelose tydgebruik is, soos byvoorbeeld breindood-foontyd. Kyk ook watter dooie tye daar in jou dag is, soos wanneer jy pendel, of tussen klasse. Dan kyk jy hoeveel tyd daar is vir leer en studeer.
- Maak tyd. As jou potensiële leertyd minder as 3 tot 4 uur per dag is, moet jy aan ander dinge begin sny. Mens word nie ’n topatleet deur 15 minute per dag te oefen nie. Mens kom nie matriek deur met ’n uur per dag se leer nie. Maak tyd - staan ’n halfuur vroeër op, eet 15 minute korter, beperk foontyd, beplan wat jy in dooie tye kan doen. As jy dan 4 uur per dag beskikbaar het, dan beplan jy hoe jy lank voor die tyd kan begin leer en nog ook ’n lewe kan hê.
Hoe rig mens hierdie beskikbare leertyd in om die beste van die sisteem te maak?
Neem bestek op van wat jy moet studeer. Dit beteken - hoeveel vakke? Hoeveel bladsye? Stel vas hoe lank dit tipies neem om 5 of 10 bladsye van ’n spesifieke vak deur te werk. Doen nou jou somme, bv. om in die beskikbare tyd tot en met die eksamen ten minste twee keer deur elke vak te kom, moet ek byvoorbeeld 20 sessies van 30 minute elk insit.
Dan gaan spasieer jy dit in die beskikbare tye, verspreid oor die tydperk tot daardie eksamen.
Die voordeel hiervan is dat mens die werk happie-vir-happie baasraak. ’n Mens kan ook elke dag ’n paar vakke doen, en nie net een vak voor ’n eksamen leer wat dan tot deurnag paniek-leer vir die ander vakke kan lei nie.
Span KI in. Kunsmatige intelligensie is ’n handige hulpmiddel om leerders te help om studieroosters op te stel.
Vra die KI-program wat jy verkies om vir jou ’n studierooster op te stel volgens jou spesifieke behoeftes. Jy prompt dus die KI-program.
Byvoorbeeld, gee die volgende inligting vir die KI-program: Jou beskikbare tyd, die hoeveelheid vakke en bladsye, hoe lank tyd daar is voor die toets of eksamen, hoeveel keer jy deur die werk wil gaan, ensovoorts.
Hoe meer inligting jy verskaf, hoe beter sal die werkbare studierooster wees wat jy dan net so kan gebruik.
Is daar spesifieke studiemetodes, of leerstyle wat ek moet gebruik wat vir my gaan werk, maar nie vir ander nie?
Navorsing het bewys dat spesifieke leerstyle nie werk nie. Hoewel gesê word dat ons almal uniek is, is daar sekere strategieë wat almal moet doen en volg om te leer.
Dit maak nie saak waar ons vandaan kom, of wat ons belangstellings is nie, ons het almal dieselfde brein - die unversele onderbou van die brein is dus dieselfde.
Die brein verander wel fisies as ’n mens leer - nuwe senuweebane en verbindings word gevorm en op die manier ontwikkel die neuroplastisiteit van die brein.
Gee asseblief praktiese wenke vir hoe om te leer?
Daar is ses fases wat altyd moet deel uitmaak van leer.
- Dit is om daar te wees en te fokus op wat jy moet leer sodat jou brein kan ontwikkel, bou en groei.
- Om bewus te wees waaraan jy tans werk - om te weet watter kennissstruktuur jy besig is om te bou. Gebruik dus jou handboek om te bepaal waaroor jy op daardie tydstip gaan leer, wat het jy reeds geleer en wat kom nog.
- Stel vas of jy die werk kan baasraak om jou motivering te behou. Lees dus deur die werk (vluglees) om ’n oorsig te vorm, kyk dat jy die tegniese terme verstaan, lees die opskrifte, en so meer.
- Maak seker jy weet hoekom jy die werk moet leer en hoe jy dit kan gebruik.
- Jy moet verstaan wat jy leer en dit memoriseer. Dit moet vasgelê word in jou brein. Dit is wanneer herhaling so belangrik is.
- Toets jouself die hele tyd terwyl jy deur die werk gaan. Lees ’n gedeelte, kyk weg, probeer om dit wat jy so pas gelees het, te herroep. Die gedeeltes wat jy dalk vergeet het, kan jy weer herhaal. As jy die gedeelte baasgeraak het, sit ’n rukkie agteroor en doen niks nie - m.a.w. op die manier weet jy hoeveel jy weet.
Navorsing het bewys dat spesifieke leerstyle nie werk nie. Hoewel gesê word dat ons almal uniek is, is daar sekere strategieë wat almal moet doen en volg om te leer. Foto: Afrikaans.com
Hoe kan leerders KI inspan om hulself te toets?
’n Praktiese voorbeeld: Gebruik ’n brondokument in pdf-formaat op jou foon/rekenaar/tablet en vra dan jou spesifieke KI-program (Grok ai, Gemini, ChatGPT, Deep Seek, ens.) om vir jou vrae op te stel - van maklik na moeillik - om jou kennis te toets.
Jy kan ook jou antwoorde op byvoorbeeld korter paragraafvrae intik en die KI-program vra om aan die hand van jou oorspronklike brondokument jou antwoord te krit, m.a.w. wat het jy goed gedoen, wat kan verbeter, ens.
Nog voorbeelde:
Wiskunde - KI kan jou help verstaan watter kennis jy kortkom om die spesifieke wiskunde baas te raak.
Tale - Skryf ’n opstel en vra KI om dit te merk en terugvoer te gee. So kan jy daaruit leer.
Is KI dan nie gevaarlik vir leer nie?
Baie mense is bang dat KI leerders se breine gaan lui maak, maar dit hang af van hoe ’n mens dit gebruik.
KI is nie daar om die werk namens jou te doen nie, want dit blokkeer leer.
Dit kan leerders wel help om beter te leer en op daardie manier kan KI juis leer ontsluit. Gebruik KI dus as ’n bondgenoot in leer.
Ek noem dit jou BOM-genoot: Begelei, Ondersteun, Meetmaat.
Begelei: Ontdek saam die feite en konsepte en som op.
Ondersteun: KI is geduldig en altyd beskikbaar om te verduidelik oor hoe om iets aan te pas, te ontdek en te verduidelik.
Meetmaat: Deur toetse saam te stel om kennis te toets. Onderwysers kan veral hiervan gebruik maak.
Let wel: Onderwysers hoef nie bedreig te voel deur KI nie. Omarm die nuwe tegnologie. KI is onafhanklik van onbevoegdheid en kan dus ongeag probleme in onderwys en onderrig ’n nuttige hulpmiddel wees, maar dit sal net werk as jy WIL leer.
Jy het genoem dat mens moet beplan vir “dooie tye”, soos pendeltyd, of tussen klasse. Hoe kan mens dit vrugbaar gebruik?
Deur KI in te span, maar dan moet ’n mens tyd maak om leermateriaal voor te berei om tydens hierdie dooie tye te gebruik, soos foto’s op jou foon, of NotebookLM se opsommings.
KI is kragtig om dooie tye te vul. So wen jy ekstra tyd.
KI kan potgooie maak uit brondokumente waarna jy tydens jou pendeltyd kan luister, of opsommings maak waardeur jy kan lees wanneer jy ekstra tyd het.
Leerders wat ’n studierooster wil opstel met die gebruik van KI, kan prof Gous kontak by hello@futuresharp.co (www.futuresharp.co).
Teken in op Afrikaans.ai
Klik hier om in te teken by Afrikaans.com se eie kunsmatige intelligensie-platform: Afrikaans.ai
Professor Ignatius Gous Foto: Akademia
Professor Ignatius Gous, is 'n emeritus professor voorheen verbonde aan Unisa en ’n spesialis in effektiewe leermetodes. Annelie van Jaarsveldt is die hoof van mediaskakeling by Afrikaans.com.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’