GEORGE NUUS - Die ontbinde liggaam van 'n vrou wat Woensdag 15 Mei deur stappers in 'n oop veld langs die pad by Victoriabaai gevind is, is moontlik die van die vermiste sakevrou, Bonnie Brink-Lawrence (62) van Pacaltsdorp.
Brink-Lawrence is op 15 Januarie, vyf maande tot op die dag, deur haar man, Quinton Lawrence, as vermis aangemeld.
Hy het haar Vrydag aan klere en juweliersware uitgeken.
Lt.kol. Malcolm Pojie, die Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het by navraag die vonds bevestig. "Die liggaam, wat reeds in 'n gevorderde stadium van ontbinding was, is deur die vrou se man uitgeken."
George-polisie het 'n geregtelike doodsondersoekdossier geopen vir ondersoek.
George Herald verneem daar was ook 'n nota met Lawrence se naam en kontaknommer by die oorskot gevind.
'n Nadoodse-ondersoek is reeds gedoen en die polisie wag op die uitslae wat meer lig sal werp op die oorsaak van dood en sal bepaal hoe lank die liggaam al daar lê.
Brink-Lawrence het met haar verdwyning verskeie aanklagte van bedrog in die gesig gestaar nadat minstens ses persone klagtes teen haar ingedien het. In 'n media navraag van die koerant verlede maand, het die polisie gesê ondersoek na die bedrogklagtes is op 'n sensitiewe stadium, maar dat vordering gemaak word.
Lees meer by www.georgeherald.com
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’