MOSSELBAAI NUUS - Die doel en werkswyse van wykskomitee's is weer eens op Saterdag, 23 Februarie tydens 'n werksessie met lede van wykskomitees toegelig.
Die Witskrif op Plaaslike Regering bepaal dat die uitbou van plaaslike demokrasie 'n kernrol van plaaslike regering is en dat munisipaliteite strategieë en meganismes moet ontwikkel om voortdurend met inwoners, die sakesektor en gemeenskapsgroepe te skakel.
Een meganisme is die vestiging en bedryf van verkose, nie-politieke wykskomitees wat die verkose wyksraadslede in die uitvoering van hul pligte tot voordeel van die wyk bystaan deur te verseker dat openbare deelname aan besluitneming op munisipale vlak verbeter.
In Mosselbaai bestaan 14 wykskomitees.
Die doel van 'n wykskomitee is om deelnemende demokrasie in plaaslike regering te verbeter, met dien verstande dat 'n wykskomitee 'n adviesliggaam is, sonder enige uitvoerende magte; onafhanklik en nie-polities is; die belange van die wyksinwoners verteenwoordig; waar toepaslik, tradisionele strukture as 'n integrale deel moet insluit; en onpartydig moet wees en sy funksies sonder vrees, begunstiging of vooroordeel moet uitvoer.
Trouens, 'n wykskomiteelid mag nie, hetsy permanent, tydelik of in 'n waarnemende hoedanigheid, 'n politieke amp in 'n politieke party beklee nie.
Die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Strukture, 1998, maak voorsiening vir die vestiging van wykskomitees vir die bevordering van gemeenskapsdeelname in munisipale sake.
'n Wykskomitee is 'n wyksgebaseerde komitee, waarvan die grense deur die wyksgrense bepaal word. Die wykskomitee is die skakel tussen die raadslid en die gemeenskap.
Wykskomitees samel kwessies in oor die wyk vir die aandag van die wyksraadslid. Hulle het namens die gemeenskap 'n sê in besluite wat 'n invloed het op die wyk, soos met beplanning, projekte, die geïntegreerde ontwikkelingsplan, prestasiebestuur en toekenning van fondse waaroor die raad besluit.
Wykskomitees is uitgedaag om betrokke te wees by gemeenskapsprojekte en gebeure, aktief deel te neem aan munisipale sake, diensleweringskwessies aan die wyksraadslid en munisipaliteit deur te gee en aan munisipale openbare vergaderings soos die GOP en terugvoervergaderings deel te neem vir kennisname van die wyk.
DBV en openbare beskermer
Hierbenewens het insiggewende gesprekke ook oor die rol en funksies van die DBV binne die munisipale area, asook die kantoor van die openbare beskermer toegelig. Die praatjie deur die streekbestuurder van die openbare beskermer se kantoor in die Suid-Kaap, adv Gideon Landman, is deur deelnemers as besonder waardevol beskryf. Gerda Reynders van die DBV het veral gewys op die tipiese siektetoestande wat onder troeteldiere in woonbuurte aangetref word, die insidente van hondegevegte wat steeds voorkom, asook probleme met wreedheid teenoor diere wat nie noodwendig gerapporteer word nie.
Sy het gesê wreedheid teenoor diere spruit dikwels uit omstandighede waar huishoudelike geweld ook voorkom. Meestal kom ander voorvalle van geweld, soos kindermishandeling ook voor.
"Vir baie slagoffers van huishoudelike geweld is die verhouding wat hulle met hul troeteldiere vorm die sterkste moontlik positiewe band wat met 'n ander lewende wese gevorm word."
Diensleweringskoste
Die munisipale hoof van finansies, Dawood Asmal, het ook die munisipaliteit se werkstudie-analise na die koste van dienslewering toegelig. Hy het gesê die eerste ronde konsultasies is afgehandel terwyl die tweede ronde tans hanteer word en 'n derde ronde na verwagting vanaf April tot Mei hanteer sal word.
Wykskomiteelede van al 14 wyke was tydens die kapasiteitsboubyeenkoms in die stadsaal teenwoordig.
Die speaker van die munisipale raad, raadsheer Petru Terblanche (heel links) is die beskermheer van die 14 wykskomitees op Mosselbaai en het die verrigtinge Saterdag geopen.
Wykskomiteelede het ook geleentheid gehad om gesellig oor 'n koppie tee te verkeer.'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'