Gallery Update
MOSSELBAAI NUUS - Die wenners van die Toetertrofee is bekend gemaak met die President-span wat met die louere weggestap het. Die tweede plek het gegaan aan die Rammelklas-kalante en die Poskantoor-dames was derde.
Pierre Joubert het die prys gewen vir die worst mechanic en Ockert Lubbe vir die best mechanic.
FOTOGALERY: Wenners van die Toetertrofee
Mossel Bay Advertiser het berig oor die 11 jongmense wat vir hulself die uitdaging gestel het om drie ou karre aan te koop en padwaardig te kry vir onder R20 000 elk en daarmee op 'n avontuurtog te gaan.
Die reis het in Potchefstroom begin via die Voortrekkermonument en Clarens en vandaar suidwaarts waar hulle rondom Kersfees in die Mosselbaai omgewing oorgebly het.
Van daar het hulle die Weskusroete gevolg en allerhande moeilikhede ondervind in the hittige Noord-Kaap. 'n Hoogtepunt was die besoek aan die Augrabies-watervalle oppad na die eindpunt in Potchefstroom.
Die drie tjorre het die reis van meer as 5 200km deurstaan. Eric en Wendy Bryant van Patrys Auto Centre het aanvanklik betrokke geraak deur die motors gratis te versien en seker te maak dis veilig om die lang pad aan te durf.
Soos die toer aangegaan het en die spanlede gesukkel het en moedeloos geraak het, het Eric begin om trofeë te maak om hulle aan te moedig!
Rika, een van twee vroue wat saam met nege mans die reis deurgemaak het, vertel: "Ons was gewoond aan die hitte in die karre, omdat daar nie lugversorging is nie, maar die Noord-Kaapse hitte was iets heeltemal anders. As ons die vensters oopgemaak het, was die lug van buite so warm soos 'n oond. Die vloere van die motors het ons so gebrand, dat ons nie ons voete kon neersit nie. Genadiglik het ons onder 'n wolk ingery en toe dit begin drup het ons van die pad getrek en in die ligte reën gestaan solank dit aangehou het. Dit het ons siele verkwik en in Kuruman het ons 'n goeie nagrus gekry deur in 'n gastehuis oor te bly.
Die volgende oggend was die laaste skof Potchefstroom toe. "Toe ons rondom die eerste slaggat moes slinger, was ons skoon opgewonde want ons was terug in ons grootwordplek, Noordwes! Ons het soos wafferse Dakar-renjaers deur die slaggate geveg en resies gejaag tussen Klerksdorp en Potch. Alles darem binne die spoedbeperking en met veiligheid altyd die eerste prioriteit!"
Die jongmense tussen 21 en 25 jaar oud, beplan reeds hul volgende reis."Dié keer, gaan ons meer plekke besoek, meer kamp en kuier en minder ry."
Wendy Bryant vertel dat hulle weer die Toetertoe-avontuur sal ondersteun, omdat dit 'n baie ontspannende aktiwiteit in die moeilike ekonomiese tye was en die jongmense baie daaruit geleer het en ook die verskillende streke van die land verken het. "Hulle het ook baie oor hulself, en hul vriende geleer. Ons sê baie dankie aan die Hemelse Vader dat hulle dié uitdaging veilig kon voltooi. My man is reeds besig om die Opel se enjin oor te doen vir die volgende reis."
Vorige artikels:
Die President-span met die Toetertoe 2022 wentrofee.
Die trofee vir die derde plek het gegaan aan die Poskantoor-dames.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'