Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO'S - Elf jongmense het met die voortvarendheid van die jeug 'n uitdaging vir hulself gestel na aanleiding van die Top Gear-program en só het die Toetertoe Trophy gestalte gekry.
Hulle het in April verlede jaar oor 'n drankie of wat besluit om die uitdaging 'n werklikheid te maak en begin soek na karre wat hulle vir onder R20 000 kon koop, kon regmaak en padwaardig en gelisensieerd kry.
Hulle wou aanvanklik 'n kombi koop, maar dié was in stukke. Die Toyota Cressida is sommer vinnig aangeskaf toe hulle by 'n bekende hoender wegneemplek in Vanderbijlpark gesit en die winskoop op Facebook Marketplace gesien het.
So gesê, so gedaan!
'n Rukkie later was die kooptransaksie beklink en hulle is met die Cressida op 'n sleepwa na een van die ouers se plase toe waar daar aan die kar gewerk is en op allerhande maniere uitgetoets is.
Soveel só dat hulle van voor af die enjin moes oorbou en talle onderdele moes vervang. Die storie van die Opel Kadett word deur twee van die jongmanne vertel in die video's wat 'n baie groot deel van hulle verhaal vertel.
VIDEO: Ludwig Rontgin vertel waar die Toetertoe Trophy uitdaging sy ontstaan gehad het
VIDEO: Pierre Joubert is een van die Toetertoe Trophy deelnemers. Hy vertel van die begin van die proses.
VIDEO: Ockert Lubbe verduidelik wat hulle alles aan die Cressida moes doen om dit aan die loop te kry.
VIDEO: Rian Velthuysen verduidelik die uitdagings met die Opel Kadette wat bietjie op was met die aankoop.
VIDEO: Rika Lubbe is een van die twee meisies wat aan die Toetertoe Trophy deelneem.
VIDEO: Ryno Bornman vertel van die baie interessante roete wat hulle gevolg het sedert die 15de Desember.
VIDEO: Dante van Sittert is ook 'n lid van die Poskantoor Dames wat met die rooi Kadette getoetertoe het.
VIDEO: Janco Malan vertel van die teëspoed wat hulle langs die pad gehad het tot in Mosselbaai.
Sover lyk dit asof Rika Lubbe se Ford Laser van die Rammelkas Kalante-span die minste probleme gee. Die ander twee spanne is die Presidentspan en die Poskantoor Dames. Hoe hulle by die name uitgekom het, is 'n storie vir 'n ander keer.
Die Toetertoe-toergroep het Maandag, 26 Desember uit die Kaap weggetrek nadat hulle by familie oorgebly het in Mosselbaai en Durbanville voor en tydens Kersfees. Die plan was om Clanwilliam toe te ry, maar iewers langs die pad het van die spanlede besluit hulle wil die Weskus bekyk.
Die laaste wat ons verneem het, is dat dit vrekwarm is en die motors beskik natuurlik nie oor lugverkoeling nie, behalwe as jy die gate in die vloer van die ou karre en die vensters wat nie kan toedraai nie, in ag neem. Sterkte julle klomp!
Ockert Lubbe, Rika Lubbe, Dante van Sittert, Janco Malan, Ryno Bornman en Vian Cooke. Rian Velthuysen staan agter hulle en Ludwig Rontgin en Pierre Joubert op die dak van die Opel.
Die Cressida van die President-span. Dit is nog duister of daar na 'n vorige of moontlik toekomstige president verwys word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'