Update
MOSSELBAAI NUUS - Gedurende die gholfdag op 25 Maart wat die Nasionale Seereddinginstituut (NSRI) se Stasie 15 van Mosselbaai aangebied het, het een van die NSRI-bemanning en organiseerders van die gholfdag onder andere kontak gemaak met die eienaar van die Luna Moon seiljag vir 'n moontlike borgskap.
Min wetende dat hierdie versoek tot 'n fondsinsamelingsveldtog as 'n volgende projek sou uitdraai.
Die wenner van die Luna Moon-kompetisie is Saterdag, 17 Junie, aangewys.
Die bemanning van die Luna Moon seiljag, lede van Stasie 15 en raadslid Anton Dellamijn, wat die trekking waargeneem het, was dié dag om 09:00 op die Luna Moon in die hawe van Mosselbaai. Met die trekking is die wenner aangewys as Eugene Camara van Mosselbaai.
Die Luna Moon met al haar seile gespan.
Die NSRI op Mosselbaai poog om geld in te samel vir die aankoop van 'n Jetrib vir dié stasie. 'n Jetrib is basies 'n jetski wat op 'n rubberboot gemonteer is. Dié tipe reddingsvaartuig word reeds baie suksesvol gebruik deur ander NSRI-stasies vir die aanwending van reddingsoperasies tussen die branders. Die koste van so vaartuig beloop sowat R650 000.
Die eienaar en kaptein van die Luna Moon, Dave Bird, het goedgunstelik 'n prys ter waarde van R3 000 beskikbaar gestel vir 'n sonsondergang-vaart op die see vir die wenner en vyf vriende waar hulle dan voor Santosstrand op anker sal lê voor hulle weer terugkeer hawe toe.
Die Luna Moon, 'n "gaff rigged schooner", is in 1920 in 'n skeepswerf in Nederland gebou en is die afgelope drie jaar in die Mosselbaai-hawe gerestoureer vir haar gerestoureerde nooiensvaart eersdaags na Madagaskar.
Volg gerus die Luna Moon se storie by www.lunamoon.org
Eugene Camara is die gelukkige wenner van die sonsondergang-vaart op die Luna Moon ter waarde van R3 000.
Die Luna Moon vertrek eersdaag na Madagaskar nadat dit die afgelope drie jaar in die Mosselbaai-hawe gerestoureer is. Foto: Jannie du Plessis
Vorige artikel: Wenner van die Luna Moon-kompetisie aangewys
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’