GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Die Groot-Brakrivier-polisie het die inwoners van dié gebied weereens gemaan om versigtig te wees ná twee voorvalle van diefstal verlede week.
Goedere ter waarde van sowat R21 000 en R14 000 is onderskeidelik by eiendomme in Fraaiuitsig en op die Sandhoogtepad gesteel.
Die stasie se woordvoerder, sers. Lauriane Botha, het gesê lede van die publiek moet bedag wees op wat in hul omgewing aangaan en enige verdagte persone of bewegings aan die polisie en buurtwagte deurgee.
Die bevelvoerder, kapt. Francois Henzen, het ook al voorheen benadruk dat die inwoners hul deure moet sluit en vensters moet toemaak, veral as daar waardevolle items sigbaar of naby is.
Jy kan ook by jou plaaslike buurtwag aansluit om aan patrollies deel te neem of om op ander maniere betrokke te raak.
Vir meer inligting oor die buurtwagte of om by die Community in Blue in te skakel, kontak die Groot-Brak-polisie by 044 620 8304/5 of die Groot-Brak GPF se voorsitter, Jacky Carstens, by 063 162 9345.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’