MOSSELBAAI NUUS - Ruzelle Baker se lewe het ingrypend verander nadat haar man, Sheradon (30) op 21 Januarie 2017 tydens sy werksdag afgesterf het.
Baker en sy kollega Luvuyo Mkutukana, beide werknemers van PetroSA is deur giftige gasse oorval toe hulle aan 'n tenk gewerk het.
Ruzelle was ten tye van haar man se afsterwe hoogswanger met hul seun. Die baba is op 11 Februarie, nege dae na sy pa se begrafnis op 20 Februarie gebore. Ruzelle het hom Sheradon genoem.
Hoewel Ruzelle dankbaar is dat PetroSA haar gehelp het om 'n "mooi begrafnis en 'n mooi bevalling te hê", was die pad sedertdien vir haar bitter moeilik. Sy sê dat sy steeds, vier jaar na die ongeluk, sukkel om die kompensasie wat haar toekom te ontvang.
Sy meen dat sy nooit volledig ingelig was oor wat haar rol in die prosessering van haar kompensasie-eis is nie. Volgens haar, is sy van bakboord na stuurboord gestuur sonder kennis van die korrekte dokumentasie wat sy moet inhandig.
"Die departement van arbeid op Mosselbaai het my na George verwys en daar gekom het ek ook nie die regte goed by my gehad nie.
"Ek het skielik uitgevind van uitstaande dokumente wat ek benodig, maar intussen is dit heen en weer ry en e-posse stuur en opvolg sonder dat iemand my ooit op hoogte hou van die vordering van my saak."Na 'n gesukkel, is sy nou effe meer geholpe met 'n kontak by beide die departement van arbeid asook PetroSA, maar die gesloer is onhoudbaar.
"Ek wil niemand se naam swart maak nie, maar ek en my kinders trek aan die kortste ent." Haar dogter, nou 14 kon onder meer nie na die skool van haar keuse gaan vanweë finansiële tekort nie.
Oor haar seun bekommer sy haar net so, aangesien hy nou vier is en sy ook aan sy skoolloopbaan moet begin dink.
Die maatskappy dra by tot 'n mediese fonds en dek deur middel van 'n trust ander onkostes, wat grotendeels skooluitgawes behels.
"Die trustgeld gaan mos nie vir altyd hou nie? Waarvan moet ons leef? Die verantwoordelikheid om 'n eis vir death on duty te hanteer kan mos nie net op my rus nie?"
Verdere slegte nuus, waarvan Ruzelle tot vandeesweek nog onbewus was, is dat die kriminele klag wat in 2019 teen PetroSA aanhangig gemaak is in terme van die Wet op Veiligheid en Gesondheid in Myne, vir eers op ys is.
Volgens inligting verskaf deur die KwaNonqaba-polisie, het 'n die nasionale vervolgingsgesag (NVG) die dossier na die ondersoekhof verwys. Die dossier behels vyf aanklagte van manslag teen werknemers van PetroSA sowel as die maatskappy self.
"Mense op straat dink ek kry elke maand sedert my man oorlede is sy salaris. Hulle dink dit gaan goed."
Maar Ruzelle Baker, is raadop.
Verwante artikels:
- PetroSA case postponed to 2020
- Criminal charges laid
- Gemeenskap groet PetroSA slagoffers
- Slagoffer se seuntjie sal sy pa nooit ken
- PetroSA accident: Toxic gas claims 2
- Update: 2 Killed in PetroSA accident
- Update: Tragedy at PetroSA
- Accident at PetroSA
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'