MOSSELBAAI NUUS - Met die eerste skoolweek vir 2020 reeds verby, is die heerlike somervakansie nou slegs 'n aangename herinnering met verbruikers wat die maand spottenderwys Januworry herdoop het.
Mosselbaai en die omliggende kusgebiede het oudergewoonte gewemel van besoekers.
Met die skoolvakansie langer as gewoonlik, was vakansie-oorde tot oorlopens toe vol met die besigste tydperk tussen 16 Desember tot net ná Nuwejaar.
Stalletjies, markte
Die talle stalletjies waar entrepreneurs handel gedryf het, asook die tradisionele aandmarkte, het deurgaans groot aftrek gekry. Noor Boolay, ondervoorsitter van die Onafhanklike Entrepreneursvereniging het by navraag aan die Mossel Bay Advertiser gesê dat veral die Hartenbos-straatmarkte goed ondersteun is. "Die aandmark in Mosselbaai het ook vanjaar weer groei getoon, veral wat betref die verskeidenheid. Dit was 'n multi-kulturele ervaring." Volgens Boolay het handelaars in die Goods Shed, Mosselbaai se binnenshuise mark ook berig dat hulle goeie besigheid tydens die seisoen gedoen het.
"Mosselbaai Toerisme het `n opname onder ons lede gedoen en die gevoel is dat die seisoen dieselfde indien nie beter is as dieselfde tyd verlede jaar nie," sê Aneli Gerber, operasionele bestuurshoof van Mosselbaai Toerisme. "Die langer skoolvakansie het verseker meer voete van ons omliggende provinsies gebring. Gauteng, Vrystaat en diesmeer het nog steeds net vanaf die 20 Desember tot 5 Januarie gebly."
Sosiale media gons
Volgens Gerber blyk dit dat sekere restaurante gewilder was as ander. "Sommige toon groei in inkomste oor die goeie vakansietyd en ander berig dat hulle wel hulle begrote inkomste behaal het, maar dat dit nie `n rekordseisoen was nie."
Voorsitter van die Mosselbaai Besigheidskamer, dr Paul Kruger beaam dat sommige restaurante genoem het dat hulle omset gedaal het. "Wat winkels en ander kleinhandelaars betref, hoor ons daar was baie voete gewees, maar nie koopkrag nie. Ons vermoed ons is maar gemiddeld 5% op teenoor laas jaar."
Gerber sê dat Mosselbaai toerisme dankbaar is vir positiewe terugvoering in die algemeen. "'n Mens moet in ag neem dat gesinne toenemend onder finansiële druk is, die petrolprys nog beduidend hoog is en dat voedselpryse sterk toegeneem het. Dit plaas groot druk op daardie ekstras soos aktiwiteite en uiteet." Wat die terugvoering op sosiale media betref, sê Gerber blyk dit asof almal die dorp geniet en waardering het vir die netheid van die dorp, asook die veilige omgewing wat geskep word.
Vanjaar was daar gedurende die seisoen, `n rekordgetal feeste, byeenkomste en geleenthede om van te kies.
Dienslewering effektief
"Ongeveer `n miljoen mense het ons strande besoek tussen 15 Desember en 5 Januarie en ons is trots om berig dat die insidente min en onbeduidend was," sê Gerber. Talle individue het hulle vakansietyd opgeoffer in samewerking met die Mosselbaai-munisipaliteit, die SAPD en plaaslike buurtwagte om misdaad hok te slaan. Die Mosselbaai-gemeenskapspolisieforum, in samewerking met die onderskeie buurtwagte het 'n enorme bydrae gelewer om strande en die St Blaize-staproete vir vakansiegangers te beveilig. Strandpatrollies, beide op perde en viertrekmotorfietse het ewenwel 'n groot bydrae gelewer tot misdaadbekaming
Ook die Mosselbaai-munisipaliteit het etlike komplimente per e-pos, op sosiale media en ook as briewe ontvang waarin hulle dienslewering geloof word. Vakansiegangers het veral lof gehad vir die netheid van die dorp en die algemene instandhouding van die infrastruktuur.
Munisipale vullisverwydering is effektief uitgevoer, ongeag die vakansiedae. Munisipale wetstoepassers moes per geleentheid onwettig geparkeerde voertuie van die spoorreserwe verwyder en skut. Drank en beskonkenes is by tye met moeite, maar suksesvol van strande af weggehou. Nie almal het gehoor gegee aan die verbod op vuurwerke nie en wetstoepassers by herhaling onwettige vuurwerke gekonfiskeer.
By twee geleenthede het tegnici en werkspanne blitsig reageer om rioolprobleme op te los om skade aan strande te voorkom.
"Mosselbaai gaan van krag tot krag en dit is duidelik hoekom on seen van Suid Afrika se gunsteling dorpe bly," sê Gerber ten slotte.
Lees aanlyn by www.mosselbayadvertiser.com oor van die werk wat agter die skerms verrig is en veiligheidsaksies om die seisoen glad te laat verloop.
So moet lekker vakansiehou mos lyk. Rozelle du Plessis het hierdie foto op die Mossel Bay Advertiser se Facebookblad gedeel.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'