MOSSELBAAI NUUS - Die afgelope somervakansie was ‘n klinkende sukses met letterlik duisende vakansiegangers wat Mosselbaai as vakansiebestemming verkies het.
Lewensredders het bykans een miljoen besoekers aan die ongerepte strande van die groter Mosselbaai van net voor, tot net ná Kersfees getel. Besoekers het die langer skoolvakansie deeglik benut en akkommodasie-instellings berig ‘n deurlopende, goeie besetting.
Seisoenmonitering
Oudergewoonte het Mosselbaai-munisipaliteit ‘n Seisoenmoniteringskomitee vir die duur van die vakansie bedryf onder die bekwame leiding van die senior bestuurder ondersteuningsdienste, Joubert Coetzee. Verskeie instansies, onder meer die SA Polisie se onderskeie polisiestasies en groepsbevelskader, die Mosselbaai Gemeenskapspolisiëringsforum, verskeie buurwagte, provinsiale verkeer, akkommodasie-instellings en munisipale kontrakteurs het dienslewering daagliks gemonitor om te verseker dat beide inwoners en vakansiegangers uitmuntende munisipale dienste in ‘n veilige omgewing kan geniet.
Agter die skerms het munisipale personeel, wetstoepassers, nooddienspersoneel, vrywilligers en kontrakteurs volstoom, tot in die na-nag en selfs op vakansiedae gewerk om dienste na behore te kon lewer.
Straatskoonmaakprojek
Dienste is uitgebrei vir die straatskoonmaakprojek met ‘n addisionele span van ‘n spanleier en ses werkers wat elke dag vanaf 16:00 tot 22:00, sewe dae ‘n week gewerk het. Hierdie uitgebreide diens het tussen 13 Desember 2019 tot 5 Januarie 2020 gegeld.
In Hartenbos het ‘n spanleier en vier werkers weekliks vanaf 17:00 en 19:00 oortyd gewerk en op Saterdae het dieselfde hoeveelheid personeel vanaf 06:00 tot 10:00 en weer vanaf 17:00 tot 19:00 gewerk om rommel op te ruim en die strate en strande skoon te maak.
Straatmarkte
By Mosselbaai se straatmark op 20 Desember 2019 het ‘n spanleier en ses werkers addisioneel vanaf 17:00 tot 23:00 deurentyd die omgewing skoongemaak en verseker dat dit netjies agtergelaat is vir die volgende oggend se normale oggendverkeer. Wetstoepassers en munisipale personeel is ook ontplooi om verkeer by die straatsluitings te reguleer terwyl tegniese personeel strate moes afsper en verseker dat alle ander dienste soos elektrisiteitsvoorsiening glad verloop.
Dieselfde het gegeld by Hartenbos se straatmarkte op 21 Desember 2019 en 23 Desember 2019 waar ‘n spanleier en agt werkers addisioneel vanaf 17:00 tot 23:00 opruimingswerk gedoen het.
Strandskoonmaakprojek
Mosselbaai se 26 strande is deurlopend skoon gehou, ‘n bykans voltydse werk gedurende die feestyd toe die aantal werkers per kontrakteur aangepas is vanaf die gewone tien werkers tot 30 werkers per kontrakteur. Gevolglik het 60 werkers die strande vanaf Danabaai tot by Glentana daagliks gediens.
Mosselbaai-munisipaliteit bedank weer eens inwoners en besoekers wat wel gehoor gegee het aan kennisgewings en versoeke om strande netjies agter te laat. Ongelukkig was daar veral ná Kersfees en Nuwejaar wel geïsoleerde voorvalle waar die kontrakteurs nie kon voorbly met die opruimingswerk nie.
Nuwejaar
Die kontrakteurs se dienste op die strande is uitgebrei vir die skoonmaak-aksie op Nuwejaar. Kontrakteurs het elk ‘n addisionele 10 mense aangestel om die strande vanaf 04:00 tot 08:00 skoon te maak.
Die munisipaliteit het daarbenewens ‘n verdere vier spanne met altesaam 22 mense ontplooi om die strande skoon te maak. Vier vragmotors is ingespan om vanaf Kanon tot by Glentana die kontrakteurs en munisipale werkers in die skoonmaakproses by te staan. Deurentyd was ‘n bestuurder en ‘n superintendent saam met die spanne vanaf 04:00 tot 09:00 aan diens.
Letterlik hope vullis is opgeruim. Die munisipaliteit bedank ook strandlopers wat uit hul pad gegaan het om tydens hul daaglikse wandelinge rommel te versamel en van die strande te verwyder.
* Inhoud verskaf
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'