MOSSELBAAI NUUS - “As deel van die Mosselbaai Dias en Port-fees moedig ons mense aan om water te skenk vir versending na Kaapstad. Ek hoop en glo die water wat uit Mosselbaai kom, sal met vreugde ontvang en aamgewend kan word. Terloops, die dam is 85% vol.”
So reageer die munisipale bestuurder, Adv Thys Giliomee op gemeenskapsinisiatiewe om skenkings van water tydens die fees by die Santos-feesterrein in te samel.
Feesgangers kan gerus verkieslik vars gebottelde en verseëlde water in 5liter houers saambring na die Santos-feesterrein en daar inhandig. Kraanwater in skoon bottels, wat duidelik gemerk is, kan ook geskenk word.
Alle skenkings sal deur Vredebest na Kaapstad vervoer word vir verdere verspreiding.
Feesprogram
Vanaand begin die verhoogpret reeds vanaf 16:00 by die Santos-feesterrein. Plaaslike kunstenaars kry die kans om te wys net hoe gewild hul musiek is, en bekende sterre soos Wellcast, G-Minor, Ramon Alexander Quartet, Prerogative, Davene Anderson, DMA, Keenen Daniëls, Ambrosia Muller, Joe Precious Nkrumah en Kay Gody skop verrigtinge af.
Vanaf 20:00 sal die Hua Xing Kunstegroep ‘n Chinese vertoning sonder weerga lewer.
Om 20:20 moet die laservertoning beslis nie misgeloop word nie, waarna die groot name in die vermaaklikheidsbedryf aan die beurt kom.
Moenie die vertonings deur Jamali, Lloyd Cele, Early B – en die vertoning waarna almal uitsien – Jack Parow misloop nie.
Klik hier vir die volledige feesprogram.
Lees 'n verwante artikel: Dias en Port Fees amptelik geopen
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'