HMOSSELBAAI NUUS - Op die vooraand van die St Blaize Model Flyers se 21ste verjaarsdagvieringe meen een van die stigterslede dat hy inderdaad selfs nog meer aan hierdie liefhebbery sou kom gespandeer het, juis omdat dit so baie vir sy seun, vandag 'n megatroniese ingenieur, beteken het.
Toevallige ooreenkomste
Vroeg in 1996 het Maurice van Egmond en Jan Naude, toevallig ontmoet en uitgevind dat hulle nie net dieselfde heimat, Namibië gemeen het nie, maar ook dieselfde belangstelling deel vir die bou en vlieg van radiobeheerde vliegtuie.
Van Egmond, verduidelik dat die gogga hom eintlik al in 1991 goed gebyt het toe hy by 'n stokperdjie-uitstalling in die Mosselbaai-stadsaal met radiobeheerde vliegtuie te doene gekry het. Volgens hom, het Chris van Zyl, destyds 'n agent vir radiobeheerde vliegtuie, vandag bekend as die eienaar van die streeksradiostasie SFM, hom "leer vlieg" het.
Dit het 'n tydjie geneem vir die klub om 'n behoorlike holte vir die voet te kry en, vertel Van Egmond, hierdie proses het ingesluit dat Adriaansrylaan, 'n besige pad wat vandag KwaNonqaba met Aslapark verbind, destyds in 'n stadium as aanloopbaan gedien het. Soms, vertel hy, was dit net kinders oral, wat hulle verstom het aan die vernuftige vliegtuigies. En boonop 'n risiko ook, veral tydens landings want die nuuskierige kleingoed wis niks van die gevaar van spoed en dies meer nie.
Die redding het egter gekom toe 'n volskaalse vliegveld ontwikkel is.
Onderhandeling met die destydse bestuur van die vliegklub en die munisipaliteit het daartoe gelei dat 'n stuk grond toegeken is aan die model-vliegklub. Weer moes die lede begin om 'n hele nuwe baan met geriewe te bou, maar met baie geduld en 'n liefde vir die modelvliegsport, aldus Van Egmond, is 'n uitstekende klubhuis en aanloopbaan gebou.
Entoesiaste van radiobeheerde modelvliegtuie meen dié stokperdjie is geensins buitensporig duur nie.
Aktiefste nog
Vandag beskik die klub glo oor 'n gesonde getal klublede en is die klub die aktiefste wat dit nog ooit was. Dit, volgens Van Egmond, is hoekom die lede gevoel het om hulle 21ste bestaansjaar behoorlik te vier. Alle klubs in die Wes-Kaap is genooi om die pretdag by te woon met baie aktiwiteite en aantreklike pryse te wen. Die kompetisies sluit in modelvlieëniers wat die meetste vliegtuie bring; landing naaste aan die kol; beste noodlanding (crash); aktiefste vlieënier vir die dag en gelukstrekkings van geborgde pryse.
Die dag se aktiwiteite begin op Saterdag, 4 November om 09:00 en duur tot Sondag, 5 November.
Vri meer inligting, kontak Hein (082 619 0735) of Louis (082 468 3739).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'