Update
MOSSELBAAI NUUS - Die seuns van 'n hoërskool op Mosselbaai wat na bewering verlede naweek 'n 18-jarige medeleerder verkrag het terwyl hulle glo 'n video daarvan gemaak het, is nie geskors nie. Die Wes-Kaapse onderwysdepartement het bevestig dat die verdagtes tans besig is om eksamen te skryf.
Woordvoerder van die onderwysdepar-tement, Bronagh Hammond sê egter die graad 11-slagoffer het nog nie terug skool toe gegaan nie.
'n Saak van verkragting is by die KwaNonqaba-polisiestasie aanhangig gemaak nadat die tieners 'n huispartytjie op Saterdag, 16 November op Mosselbaai bygewoon het.
Die voorval het omstreeks 22:00 plaasgevind. Die slagoffer het na bewering by die partytjie alkohol gedrink en toe aan die slaap geraak. Volgens polisiewoordvoerder, sers Kapp het sy wakker geword en gesien dat sy kaal is.
'n Vriendin het haar ingelig dat daar 'n video onder medeleerders versprei is waarin die drie seuns beurte maak om met haar seks te hê. 'n Betroubare bron het aan die Mossel Bay Advertiser bevestig dat die video onder leerders versprei is en minstens 10 minute lank duur.
Die drie verdagtes se gesigte is glo ook duidelik sigbaar in die video.
Hofverskyning
Adjudant-offisier Tata Marks van die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe is die ondersoekbeampte in die saak en het Maandagaand die eerste verdagte op Mosselbaai in hegtenis geneem. Dié 17-jarige seun het op Dinsdag, 19 November in die Mosselbaai-landdroshof verskyn op 'n aanklag van verkragting.
Hy is in die sorg van sy ouers vrygelaat en moet weer op 14 Januarie in die hof verskyn waarna die saak na verwagting na die streekhof verwys sal word.
Teen druktyd was die polisie nog besig met die ondersoek en het sers Kapp bevestig dat nog arrestasies sal volg.
Die onderwysdepartement het die afgelope week hulle skok oor die voorval uitgespreek. Hammond sê die departement sal die nodige hulp aan die slagoffer en haar familie verleen, sou hulle dit verlang.
Die skoolhoof is deur die Advertiser van die voorval ingelig en het met die polisie in verbinding getree en die voorval by die onderwysdepartement aangemeld.
Die slagoffer en haar ouers is na wat verneem word erg getraumatiseerd.
Lees vorige artikels:
- Seun in hof na verkragting op video vasgelê is
- Opvolg: Seuns (18) verkrag glo medeleerder
- Hoërskoolseuns verkrag glo meisie (18) op video
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'