Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - 'n Inwoner van 4de Laan, De Bakke in Mosselbaai, is raadop nadat nóg 'n voertuig Donderdagnag, 13 April. deur haar erf se baksteenheining gebars en in haar woning se kombuis tot stilstand gekom het.
Die ongeluk het net ná 23:00 plaasgevind toe 'n Volkswagen Amarok met 'n Vrystaat-registrasienommer deur die heining gebars, deur die tuin en toe tot in die kombuis ingejaag het.
FOTOGALERY: Verwoesting na bakkie deur heining tot in kombuis bars
Die manlike insittende is vanaf die toneel na die hospitaal geneem. Sy beserings is egter onbekend.
Dinette Wessels het aan Mossel Bay Advertiser gesê dat voertuigbestuurders baie keer, onwettig, vanuit Louis Fourieweg met 'n spoed by 4de Laan indraai en dan by die vurk tussen 4de Laan en Sea Viewlaan beheer oor hul voertuie verloor.
"Daar was al twee keer voertuie wat tot teen die muur gejaag het, een motorfiets en toe weer op 31 Januarie 2022 'n voertuig met 'n klomp jong skoolkinders en nou dié bakkie," vertel Wessels.
Volgens Wessels is spoed en dronkbestuur die grootste oorsake van die ongelukke én natuurlik die feit dat die indraai na 4de Laan van Da Nova se rigting verbied word met die nodige waarskuwingstekens.
Wessels sê dat daar elke keer groot skade aangerig is en die keer is haar hele kombuis boonop verwoes. "Die munisipaliteit sê die pad val onder die Provinisale regering en dit is moeilik om 'n oplossing vir die probleem te kry," sê sy.
Wessels het ook 'n versoek gerig aan burgemeester, Dirk Kotzé, wat na die ongeluk by die woning kom kyk het of daar van die munisipaliteit se kant 'n oplossing gevind kan word vir dié probleem.
Wessels het ook haar dank uitgespreek teenoor twee sekuriteitsmaatskappye, brandweer, polisie en verkeer vir hulle bystand en vinnige optredes. 'n Plaaslike loodgieter asook 'n verskaffer van laaibakke (skips) is ook bedank vir hulle aandeel.
Die polisiewoordvoerder van Mosselbaai, ao Pieter Koekemoer, het bevestig dat die bestuurder van die bakkie vir roekelose en nalatige bestuur asook dronkbestuur aangekla is.
Vorige artikel: Bakkie deur muur tot in kombuis
VERSKAFDE VIDEO :
Dinette Wessels het aan Mossel Bay Advertiser gesê dat voertuigbestuurders baie keer, onwettig, vanuit Louis Fourieweg met 'n spoed by 4de Laan indraai en dan by die vurk tussen 4de Laan en Sea Viewlaan beheer oor hul voertuie verloor.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’