Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - ‘n Inwoner van 4de laan, De Bakke in Mosselbaai is raadop nadat nog ‘n voertuig Donderdagnag, 13 April deur haar erf se baksteenheining gebars en in haar woning se kombuis tot stilstand gekom het.
Die ongeluk het na 23:00 plaasgevind toe ’n Volkswagen Amarok met ‘n Vrystaat-registrasienommer deur die heining gebars het, deur die tuin en toe tot in die kombuis ingejaag het.
FOTOGALERY: Voertuig bars deur baksteenheining
Die manlike insittende is vanaf die toneel na die hospitaal geneem. Sy beserings is egter onbekend.
Dinette Wessels het aan Mossel Bay Advertiser gesê dat voertuigbestuurders baie keer, onwettig, vanuit Louis Fourieweg met 'n spoed by 4de Laan indraai en dan by die vurk tussen 4de Laan en Sea Viewlaan beheer oor hul voertuie verloor.
“Daar was al twee keer voertuie wat tot teen die muur gejaag het, een motorfiets en toe weer op 31 Januarie 2022 'n voertuig met ‘n klomp jong skoolkinders en nou dié bakkie,” vertel Wessels.
Volgens Wessels is spoed en dronkbestuur die grootste oorsaak van die ongelukke en natuurlik die feit dat die indraai na 4de Laan vanaf Da Nova se kant af verbied word met die nodige waarskuwingstekens.
Wessels sê dat daar elke keer groot skade aangerig is en die keer is haar hele kombuis verwoes. “Die munisipaliteit sê die pad val onder die Provinisale regering en is dit egter moelik om ‘n oplossing vir die probleem te kry,” sê sy.
VERSKAFDE VIDEO (Video: Dinette Wessels):
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’