MOSSELBAAI NUUS - Die hoeksteenplaat van 'n kerkgebou wat op 'n Mosselbaaise stortingsterrein gewaar is, het heelwat kommentaar ontlok toe 'n foto daarvan verlede week op sosiale media geplaas is.
Die hier-en-daar negatiewe kommentaar ten spyt, blyk dit geluk by die ongeluk te wees, aangesien die gemeente se bestuur juis naarstiglik op soek na die hoeksteenplaat is, nadat bouwerk aan die gebou onlangs voltooi is.
Vida Nova-gemeente, voorheen bekend as die Mosselbaai AGS het hulle naamsverandering onlangs ingelui met gepaardgaande veranderinge aan die perseel. Die gemeente, geleë in Da Gamastraat, Da Nova het nie net aangrensende eiendom aangekoop nie, maar ook strukturele veranderinge aangegaan om veral die kinderbediening te kan akkommodeer.
Volgens die leierleraar van die gemeente, pastoor Gerhard van Rensburg, het die bestuur verlede Vrydag daarvan kennis geneem dat die hoeksteenplaat by 'n stortingsterrein opgeduik het.
Hy sê dat daar al 'n geruime tyd na die hoeksteenplaat gesoek word.
"Ons vermoed nou dat dit verkeerdelik tussen die bourommel wat op die perseel gelê het en weggeneem is, moes beland het. Ons het reeds die persoon wat die foto geneem en op sosiale media geplaas het, probeer in die hande kry, omdat ons die hoeksteenplaat baie graag wil terughê."
Volgens past Van Rensburg is dit juis vir die gemeente belangrik om die hoeksteenplaat weer in ere te herstel omdat die gemeente, die naamsverandering ten spyt, steeds deel is van die AGS van Suid-Afrika.
Enige persoon met inligting aangaan die hoeksteenplaat, kan die Vida Nova-kantoor skakel (044 690 3384).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'