MOSSELBAAI NUUS - Dodelike aanvalle op vragmotorbestuur-ders neem op die hoofpaaie van die Wes-Kaap toe.
Twee werknemers van Gastao's Quality Foods op Mosselbaai, Mike Riddles en Eden Kiewiet was op Woensdag, 7 Augustus die jongste slagoffers hiervan toe die vragmotor wat hulle by Somerset-Wes bestuur het met 'n petrolbom gegooi is.
Die vragmotor het bevrore en gedroogte kos vervoer. Die voorval het by 'n rooi verkeerslig op die Broadlands-pad in Somerset-Wes gebeur.
Michael de Nobrega (35), algemene bestuurder by Gastao's sê hulle is geskok oor die voorval en wonder wat die motief was.
Eden Kiewiet het sy sleutelbeen gebreek toe hy uit die vragmotor gespring het in 'n poging om van die petrolbom te ontsnap.
Beeldmateriaal van kameras wat binne die vragmotor geïnstalleer is vir sekuriteitsdoeleindes wys die traumatiese voorval. Dit blyk dat klippe deur die vragmotor se kantvenster gegooi is waarna die petrolbom deur die gebreekte ruit gegooi is.
Veiligheidsmaatreëls opgeskerp
Kiewiet en Riddles het uit die vragmotor gespring en toe weer terug ingeklim en na die naaste vulstasie gery waar hulle die polisie gekontak het. Riddels, wat bestuur het en reeds die afgelope 18 jaar as 'n vragmotorbestuurder werksaam is, het aan die Mossel Bay Advertiser gesê dat hulle glad nie die aanval verwag het nie. "Dit is die eerste keer in my jare as vragmotorbestuurder dat so iets met my gebeur." Riddels sê hulle was vol petrol, maar die bom het gelukkig nie ontplof nie. Volgens Riddels is hy nie afgesit deur die voorval nie en sal hy weer vragmotors bestuur.
De Nobrega sê hulle het intussen ekstra veiligheidsmaatreëls in plek gesit. "Ons het op al ons vragmotors windskerms aangebring wat nie kan breek nie. Ons het ook ons roetes aangepas sodat ons vragmotorbestuurders nie saans in gevaarlike gebiede moet ry nie."
Die aanval op Riddles en Kiewiet volg kort nadat die vragmotorbestuurder, Johan Coetzee by die N2-aansluiting by Sir Lowryspas vermoor is. Die afgelope naweek was daar nog 'n aanval kilometers van Coetzee se moordtoneel. Soortgelyke voorvalle is op 24 Junie, 7 Augustus, 8 Augustus en 10 Augustus by die polisie in die Wes-Kaap aangemeld.
Hoof van die Wes-Kaapse verkeersdepartement, Kenny Africa sê hulle vermoed die motief vir die aanvalle is roof op die vragmotors asook die vragmotorbestuurders. Africa sê die brandpunte op die hoofpaaie van die provinsie is by Beaufort-Wes, De Doorns, Lwandle en Du Noon.
Beeldmateriaal van die voorval is op kamera vasgelê.
Mike Riddles en Eden Kiewiet. Kiewiet het sy sleutelbeen gebreek toe hy by die vragmotor uitgespring het.
'n Ruit van die vragmotor na die aanval.
Lees 'n vorige artikel hier: Werknemers geskok na petrolbom aanval
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'