GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Mnr. D.G. Rhoode (56) het jare gelede van die letterlike bakstene vir vandag se Groot-Brakrivier Sekondêr gelê.
Vandag lê hy die fondasies vir dié dorp se jongstes by Groot-Brakrivier Primêr.
Rhoode, of Demi (Damacene afgekort), soos baie in die gemeenskap hom ken, is op 1 April 2022 permanent as Groot-Brak Primêr se skoolhoof aangestel.
Hy het egter sedert einde 2020 al in die pos waargeneem toe sy voorganger, Edwin Abrahams, afgetree het.
Rhoode het self by dié skole klasgedraf, en merk laggend op dat hy op sy dag 'n ondeunde seuntjie was.
Dié einste ondeunde Demi se droom was egter nie die onderwys nie. Hy was lief vir rekeningkunde en natuurwetenskap en het homself destyds eerder in só 'n beroep gesien.
Maar, sê hy, toe die kindertjies eers sy hart steel, was daar nie omdraaikans nie. "Tot vandag toe wil ek niks anders doen nie."
Die onderwyspaadjie was aanvanklik vir hom 'n aanpassing, en daar was maar die lekker én nie so lekker dele. Hy het eers vir twee jaar in Windhoek, Namibië, gestudeer. "Ek is 'n Sondag Kaap toe, toe Windhoek toe - voor dit was ek nog nêrens uit die land uit nie."
En dan was daar nog die destydse ontgroening, en dit in die vreemde.
Hy onthou die prakties en die baadjie, das en netjiese skoene wat 'n absolute vereiste was.
"En ons het vér geloop skool toe. Toe ek eendag by die skool kom, besef ek ek loop met 'n paar vúile tekkies. Ek het heeldag weggekruip en voete weggesteek."
Gelukkig het hulle toe net waargeneem en kon hy agter in die klas wegkruip, lag hy.
Ná twee jaar in Namibië het hy sy studies by die Onderwyskollege Suid-Kaapland in Oudtshoorn voltooi.
Kwalifikasie agter sy naam was hy vir 'n kort rukkie by 'n plaasskool in Jonkersberg, en daarna van 1992 af vir 14 jaar by 'n skool in Elsiesrivier, Kaapstad, totdat dié daar gesluit het.
Hy het toe 'n kans gewaag op 'n driemaandaflospos by Groot-Brak Primêr, en is gelukkig na twee maande permanent aangestel - dit was 2006.
Mnr. Rhoode en Juffrou Jacoba Jones het elk 30 jaar diens in die onderwys.
Hier het hy wiskunde en natuurwetenskap gegee. Laasgenoemde sê hy is sy geliefkoosde vak, omdat daar léwe daarin is. "Ek het nog altyd 'n liefde vir plante en diere."
Dan het hy ook ’n groot liefde vir sport, veral rugby. Hy is tans die erepresident van Groot-Brak Rugbyklub.
Sy ander liefde, waarby hy deesdae selde uitkom, is hengel.
D.G. Rhoode met een van sy vangste.
Belangrike rolspelers
Op sy pad na die hoofpos het hy soos hy sê baie 'stukkies' by verskillende mense gekry en geleer, maar hy moet 'n paar spesifiek uitsonder: Bill Meyer, familievriend en die destydse kringbestuurder by Elsies, Nelson Laws, die departementshoof toe hy by Groot-Brak aankom, Abrahams, die oudskoolhoof, en sy huidige kringbestuurder, Rozelle Smith-Neethling.
Elkeen het op hulle eie manier bygedra tot die volledige prentjie wat vandag die skoolhoof, D.G. Rhoode, in sy geheel vorm.
By Abrahams veral het hy van rustigheid geleer en om kinders te omhels. Rhoode sê hy was self altyd 'n baie kwaai onderwyser, maar hy glo hy het daardie ommeswaai na rustigheid grotendeels reggekry.
Rhoode op Crazy Hair Day by die skool.
"Onse kinders kom partykeer uit moeilike omstandighede. Die skool bied iets anders; liefde, veiligheid. Ons wil hulle laat welkom voel. Die kleintjies sê partykeer vir my oupa of oom - ek gee nie om nie. Jy's my kind."
Dit sluit ook aan by sy gunstelingdeel van die onderwys: "Die smiles op kinders se gesigte. Ons werk met Jesus se kosbaarste, die kleintjies."
Rhoode haal Jesus se woorde aan: "Laat die kindertjies na my toe kom." So, sê hy, eerder as wat jy 'n kind uit 'n klas uit sit, prys hom, al is dit vir die kleinste dingetjie.
"Dan sien jy hoe blom daai kind!"
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’