MOSSELBAAI NUUS - Vakbonde is steeds besig om te probeer keer dat PetroSA 500 poste besnoei.
Volgens 'n vertroulike forensiese verslag oor wanbestuur en vermorsing waaroor Fin24 onlangs berig het, was daar na bewering 'n vemorsing van tot R500 miljoen by PetroSA, veroorsaak deur topbestuurders.
Die forensiese ouditeursfirma, Mvezwa Holdings het die verslag saamgestel.
Die vakbond, Solidariteit het die afgelope week aan die Mossel Bay Advertiser gesê hulle is nou in die proses waar daar vergaderings met bestuur plaasvind rakende die oorweging van alternatiewe om die afleggings te probeer verhoed of die aantal werknemers wat geraak word te verminder.
Hoofsekretaris van Solidariteit, Gideon du Plessis sê die volgende konsultasiesessie vind op 12 April plaas.
"By die genoemde sessie sal ons versoek dat die afleggings eers op ys geplaas word om die onlangse verslag wat Fin24 gepubliseer het rakende bedrog van R500m te ontleed om te bepaal wat die invloed van wanbestuur en korrupsie op afleggings was."
Die vakbonde sluit in Numsa en die chemiesewerkersunie Ceppwawu en het intussen voorstelle ingedien oor hoe om die 500 wat PetroSA wil besnoei te red.
Du Plessis sê PetroSA wou aanvanklik 850 poste snoei.
Tot op datum het PetroSA nie aangedui watter stappe teen enige bestuurslede wat aan wanbestuur skuldig bevind word, geneem sal word nie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'