MOSSELBAAI NUUS - Twee vriendinne was op pad na Mosselbaai vir vakansie toe hulle in 'n ongeluk net buite Aberdeen in die Oos-Kaap betrokke was.
Zoë Minnaar (20) en Kari van der Walt (20), albei tweedejaarstudente en voormalige leerders van Hoërskool Punt, is aanvanklik op Graaff-Reinet behandel ná die ongeluk waar Van der Walt beheer oor die voertuig verloor het.
Daar was glo 'n sterk wind wat gewaai het, wat die motortjie effens van die pad gedruk het. Daar was nie 'n skouer nie en sy het beheer verloor toe sy die kar weer terug op die pad probeer kry het.
Ná hulle op Graaff-Reinet behandel is, is Minnaar na 'n hospitaal in Bloemfontein en toe na Pretoria waar sy more (28 November) 'n operasie aan haar sleutelbeen sal kry. Van der Walt is na Gqeberha waar sy behandel word.
Minnaar se ma, Stefanie, het (met toestemming van Kari se ouers) vir die Mossel Bay Advertiser terugvoer gegee oor albei vriendinne se toestande.
"Zoe het haar sleutelbeen gebreek en het 'n diep sny op haar been en Kari het veelvuldige beserings en sy het veral haar arm baie seergemaak. Daar gaan nog opvolgoperasies vir albei van hulle wees."
Zoë Minnaar en haar ma, Stefanie.
Sy sê hulle is albei in baie goeie hande en het tot dusver uitstekende behandeling gekry.
Sy sê hulle het so baie boodskappe van ondersteuning en gebede vanuit Mosselbaai gekry, waarvoor sy en Kari se ouers opreg dankbaar is.
Stefanie vertel ook van iets ongelooflik wat met haar en Zoë gebeur het op hul pad terug na Johannesburg, waar hulle nou woon.
Sowat 100km voor Bloemfontein het daar verskeie waarskuwingsligte in hul kar aangegaan en hulle kon nie verder ry nie. Iemand sou hulle kom haal het en Johannesburg toe neem, maar Zoë het gesê terwyl hulle nou naby Bloem is, moet sy dalk sommer dáár na 'n hospitaal toe gaan.
Ook goed so, vertel Stefanie, want Zoë se liggaam het nie lank ná hulle by die hospitaal aangekom het nie, in skok ingegaan. Gelukkig was daar 'n traumaspesialis wat dadelik besef het wat aangaan en sy kon die regte behandeling kry.
Renault in Bloemfontein kon Maandagoggend géén fout met die kar kry nie, sê Stefanie.
Sy sê verder mense kan maar net aanhou bid vir hul geliefde dogters se opvolgoperasies.
Sy het ook bygevoeg hoe belangrik dit vir jong mense is om gevorderde bestuurslesse te neem, waar hulle leer wat om in noodsituasies te doen.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’