Breaking News
MOSSELBAAI NUUS - Twee mans (42 en 24), familie van mekaar, is in hegtenis geneem ná ’n skietvoorval om 19:45 op Vrydagaand, 20 Junie, in ’n parkeerterrein in Industrieweg, Voorbaai, Mosselbaai.
Niemand is tydens die skietery beseer nie.
Klante van kuierplekke in dié omgewing mag volgens ’n ooreenkoms met die eienaar saans die parkering gebruik, mits dit skoon gelaat word.
’n Ooggetuie het Mossel Bay Advertiser meegedeel dat daar ’n rusie by ’n voertuig in die parkeerterrein ontstaan het, waar ’n groep mense na bewering saamgedrom het.
“’n Ou het na sy voertuig gestap, ’n vuurwapen uitgehaal en ’n skoot afgevuur. Ons het gedink dit was dalk ’n blank, maar het na die tyd ’n patroondoppie opgetel.”
Mossel Bay Advertiser het betroubaar verneem dat die tweede verdagte, in wie se rigting daar glo geskiet is, ook in hegtenis geneem is omdat hy na bewering gepoog het om die skieter, of 'n ander persoon, met sy voertuig om te stamp of bo-oor hom te ry.
Die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, sê die twee verdagtes staar twee aanklagte van poging tot moord in die gesig, asook die afvuur van ’n vuurwapen in ’n munisipale gebied.
Die verdagtes het hulself Sondag aan die Da Gamaskop-polisie oorhandig. Hulle sal môre, 24 Junie, in die Mosselbaai-landdroshof verskyn.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’