MOSSELBAAI NUUS - Lukas du Preez, die trekklavierman van Life Bay View privaat hospitaal het sedert hy verlede week op sy "roadshow vir Marinda" vertrek het, minstens 12 hospitale in die Wes-Kaap in minder as week besoek.
Boonop was hy twee keer op RSG, waar hy verder sy boodskap van hoop gebore uit smart tydens radio-onderhoude gedeel het.
Du Preez se vrou, Marinda is op 14 Augustus in die Life Bay View privaat hospitaal oorlede waar sy vir Covid-19 behandel is. Hy het sedert Julie buitekant die Covid-19-saal trekklavier gespeel om haar te ondersteun. 'n Video van Du Preez al spelende, het landwyd asook internasional aandag getrek.
LEES: Lang pad nou voor vir Lukas
Nóg 'n gesin wat diep geraak is deur sy musiek is dié van wyle Dennis Cozette van Heathfield, Kaapstad.
Eloise Gerber, Cozett se dogter het vandeesweek by navraag aan die Mossel Bay Advertiser gesê dat sy Du Preez se spelery op sosiale media gesien het en aan haar ma, Irene gewys het.
"Haar eerste reaksie was, 'maar dis Pappa wat daar speel'. Lukas se gestalte en sy musiek het ons so aan my pa laat dink."
Wyle Dennis Cozette was 'n lid van die vloot, maar het sedert sy jong dae trekklavier gespeel. Hy is in 2016 aan maagkanker oorlede. Volgens sy dogter het hy, soos Du Preez, graag by hospitale gespeel om siekes te bemoedig.
"Die Rooikruis-hospitaal was sy gunsteling. Hy het tot dae voor sy dood nog sy trekklavier bespeel."
Wyle Dennis Cozette van Heathfield, Kaapstad.
Aangeraak deur Du Preez se spel, het Irene Cozette besluit dat sy haar oorlede man se instrumente aan hom wil skenk.
Sedert my pa se dood staan alles nog net so toegedraai in die huis. Ons het besluit om dit te skenk aan Lukas sodat dit weer bespeel kan word en my pa se nalantenskap op hierdie manier kan voortleef," vertel Gerber.
Wyle Dennis Cozette en sy vrou, Irene.
Nadat sy via sosiale media met Du Preez kontak gemaak het, het sy seun Jacques vandeesweek die instrumente gaan haal.
"Dit wys jou die krag van hierdie ding. Dat dit oor grense gaan. Hier het 'n bruin vrou na my, 'n wit outjie, uitgereik," het Du Preez telefonies aan die Advertiser gesê.
Ten tye van die gesprek was Du Preez vir 'n blaaskans in die Sederberge en het aangedui dat hy binnekort na sy tuisdorp, George sal terugkeer.
"Ek gaan vir haar 'n stukkie op haar man se trekklavier speel."
Lukas du Preez (met trekklavier) tydens sy "roadshow vir Marinda" saam met hospitaalpersoneel in Kaapstad.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'