MOSSELBAAI NUUS - Dit was 'n tranerige afskeid van die uittredende speurder, kaptein Adele Nortje.
Die kaptein, wat 36-jaar aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gewy het, het op Donderdag, 31 Oktober, afskeid geneem van die Da Gamaskop-polisiestasie op Mosselbaai.
Haar kollegas het by die ingang van die stasie tougestaan om haar met 'n polisiesaluut te groet. Toe sy verbystap, is meer as 'n paar trane gestort.
By die hek was sy ingewag deur haar man, Marius (wat ook 'n afgetrede SAPD-beampte is), en kleinkinders wat haar met drukkies verwelkom het.
Adele het in 1988 by die polisie aangesluit. Sedertdien het sy 'n roemryke loopbaan gehad wat aan polisiewerk gewy is.
Kaptein Adele Nortje. Foto: Verskaf
Sy het die rang van konstabel beklee van 1988 tot 1995 toe sy tot sersant bevorder is. Net die volgende jaar is sy weer bevorder tot adjudant-offisier.
In 2011 het sy haar eerste tree as offisier gegee toe sy as luitenant ingesweer is, waarna sy vyf jaar later haar taak as kaptein by die Da Gamaskop-polisiestasie voortgesit het.
Haar kollegas kan net met lof van haar praat. Volgens hulle, was sy "soos 'n ma" vir die nuwe beamptes, wat by die polisie aangesluit het.
Adele is beskryf as merkwaardig en as iemand met 'n groot hart, maar was ook nie een wat disrespek geduld het nie.
"Sy was eintlik 'n sagte mens, maar het 'n passie gehad vir haar werk en om op te staan teen onregverdige behandeling, wat ander dalk in die gesig staar," het Adjudant-offisier Arleen Stokes verduidelik. "Ek het geglo om elke verdagte regverdig te behandel," het Adele gesê.
Voordat Adele in 1998 by Mosselbaai aangesluit het, is sy van Secunda in Mpumalanga gewerf. Sy was eers by die Mosselbaai-polisiestasie, voordat sy in 2003 by Da Gamaskop aangesluit, waar sy haar speurloopbaan begin het.
"My loopbaan in die SAPD het my die geleentheid gebied om met alle vlakke van die lewe te werk deur baie ondervinding in verskillende velde op te doen en met alle soort mense te werk."
Dit was 'n emosionele afskeid vir kaptein Adele Nortje. Foto: Gabriélla Siebritz
Adele het gedeel dat die lede op haar skof soos familie was. Respek vir mekaar was baie belangrik en dit het gemaak dat hulle as 'n goeie span saamgewerk en meeste van die tyd as die beste skof presteer het, verduidelik sy.
"Sy was werklik 'n aanwins vir dié stasie," het haar kollegas gesê. "Jy gee jou hele lewe op vir 'n werk soos hierdie," het Stokes met die Mossel Bay Advertiser gedeel. "Sy het selde indien ooit 'n dag verlof geneem omdat sy siek was."
Om as speurder te werk was nie altyd maklik nie en het sy uitdagings gehad. Maar soos hulle sê: "Een keer 'n speurder, altyd 'n speurder," sê Adele.
Sy sê haar loopbaan as 'n polisiebeampte is op 'n hoë noot voltooi.
Haar planne vir die toekoms is om haar aftrede deur te bring om tyd saam met haar man, kinders en kleinkinders te geniet.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’