Update
MOSSELBAAI NUUS - 'n Gesin van Uitbreiding 13 se lewens is opnuut aan skerwe geruk na die moord op 'n 17-jarige meisie, Michaela Booysen in die vroeë oggendure van Sondag, 6 Oktober.
Booysen was 'n leerder aan Hillcrest Sekondêre Skool. Sy was volgens inligting ontvang van die KwaNonqaba-polisie onderweg huis toe saam met haar vriend toe drie onbekende mans hulle om 03:20 in Dywilistraat, Aslapark beroof het.
Michaela is met 'n voorwerp teen haar kop geslaan en is later op die misdaadtoneel dood verklaar.
Haar vriend het geslaag om die aanvallers te ontvlug.
Swart tekkies
Michaela Booysen is vir haar swart Nike-tekkies vermoor. Op Maandag, 7 Oktober het haar kêrel van die afgelope drie maande, Kealin Michaels (24) met die Mossel Bay Home Ads News gesels.
'n Tranerige en sigbaar steeds geskokte Michaels het by die toneel in Dywilistraat waar bloetspatsels steeds sigbaar was, gekniel. Michaels sê hy en Michaela het vroeër die aand by sy huis gekuier toe hy saam met haar teruggestap na haar woning in Barracudastraat. "Ons het geloop en gesels toe daar mans van die bokant van Dywilistraat in ons rigting gehardloop kom. Hulle het Michaela met 'n piksteel oor die kop geslaan en sy het geval. Hulle het my identiteitsdokument, kontant en bankkaart gevat, Michaela se tekkies, en toe weggehardloop."
Michaels sê hy het by Michaela gehurk terwyl die polisie en die ambulansdienste op pad was. "Sy het heeltyd vir my gekyk en haar oë geknip. Ek het met haar gepraat en sy het nog 'n laaste keer haar oë vir my geknip. Toe die ambulans by ons stop, was sy reeds dood en toe maak ek haar oë toe."
Michaels sê hy weet nie hoe hy dit wat hy gesien het en die verlies van Michaela gaan verwerk nie.
Ma vermoor
Michaela was vier jaar oud toe sy en haar twee sibbe, onderskeidelik 10 en 7 jaar oud, 'n aanval oorleef het waartydens haar hele gesin by hulle huis in Barracudastraat deur haar pa, Shaun Kiewiet aangeval is.
Die Mossel Bay Advertiser het in November 2006 oor die voorval berig en gesê dat daar 'n beskermingsbevel teen die kinders se pa was ten tye van die voorval. Michaela se ma, Melanie (28) is tydens die aanval met 'n kapmes doodgekap tydens dié grumoord, terwyl haar ouma en oupa, ernstig beseer is. Haar oupa, Manny en ouma, Mary het die kinders grootgemaak na hulle ma se afsterwe. In 2012 het die gesin 'n verdere terugslag beleef toe hulle huis in Barracudastraat afgebrand het.
Michaela Booysen.
Lees vorige artikels hier:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'