Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Na 232 253km op die odometer, is 'n Mercedes 230E wat in 1995 vir R107 000 gekoop is, by dieselfde handelaar in Mosselbaai vir 'n ander motor ingeruil.
Dié voorreg was Jansie Venter, 'n inwoner van Santos Haven s'n wat haar oorlede man, Jan se motor vir 'n kleiner outomatiese Hyundai i20 ingeruil het.
"Dis eintlik met weemoed dat ek vanmôre van die kar afskeid neem, want my man was mal daaroor," het Jansie Vrydagmiddag, 31 Julie aan die Mossel Bay Advertiser gesê. "My man was 'n nederige mens, maar as hy met die Mercedes gery het, het almal hom gekomplimenteer."
Volgens Jan Senekal, eienaar van Spes Bona Motors in Marshstraat wat al 30 jaar hier handeldryf, is dit 'n besonderse gebeurtenis as 'n klant na 25 jaar terugkeer.
Kyk 'n video hieronder:
Jansie het verder vertel dat, buiten die brandstofverbruik, die Mercedes vir haar te groot geword het om gemaklik te parkeer. Haar dogter, Amanda le Roux en 'n vriendin, Amanda Dapner, het uit die Kaap kom kuier om Jansie met die groot stap by te staan. Dit was die Kapenaar se eerste besoek aan Mosselbaai sedert die Covid-19-pandemie die wêreld kom omkrap het.
Jansie het voor haar vertrek vir Jan en sy span hartlik bedank vir die manier waarop hulle haar as spesiale kliënt hanteer het met die blomme en geskenkies toe sy die motor kom haal het. Na al die papierwerk afgehandel is en Jan vir haar mooi verduidelik het hoe die motor se afstandbeheer werk, is Jansie met 'n glimlag in haar nuwe motor daar weg.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'