MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai-munisipaliteit het op Dinsdag 14 April 'n kennisgewing uitgereik dat die Tarka-amfiteater tydelik tot en met Desember gesluit sal wees.
By verdere navraag het die munisipaliteit bevestig die amfiteater is op 8 April vir konstruksie aan die kontrakteur oorhandig.
"Konstruksiewerk kan enige tyd vanaf hierdie datum aanvang neem. Die beplande tyd vir voltooiing van konstruksie is agt maande."
Die teater is in Oktober 2023 voltooi. Die munisipaliteit sê die huidige konstruksie vorm deel van fase 2 van dié ontwikkeling en behels die oprigting van ablusiegeriewe, asook die konstruksie van 'n voetgangerroete.
Volgens hom is daar twee geleenthede wat deur die sluiting geraak sal word. "Twee aansoeke is ontvang, die Tarka Kuierfees (3 tot 7 Desember) asook die Tarka Street Festival. Ongelukkig sal hierdie geleenthede nie gedurende die tydperk van die tydelike sluiting kan plaasvind nie."
Gevra wanneer hierdie sluiting vir die eerste keer gekommunikeer is, het die munisipaliteit gesê: "Die kennisgewing wat [Dinsdag] uitgereik is, dien as 'n aanvanklike plasing om die publiek van die tydelike sluiting bewus te maak. 'n Meer volledige kennisgewing met addisionele inligting sal volg."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’