MOSSELBAAI NUUS - Op presies 101 jaar en een maand, het tant Truitjie (Gertruida) Rall vir die laaste keer haar oë gesluit in die Onse Rus-tehuis op Mosselbaai.
Die Mossel Bay Advertiser het verlede jaar op haar 100ste verjaarsdag alte lekker saamgekuier toe dié tante, nog met 'n vonkel in die oog die wortelkoek wat bedien is onder die geklank van boeremusiek geniet het saam met familie en vriende.
Tant Truitjie en haar man het jarelank op Heidelberg geboer. Na sy afsterwe, het sy na 'n kleinhoewe naby die dorp verhuis waar sy in die druiwebedryf aktief geraak het. Sy was op haar dag van KWV se kwaliteitverskaffers. Tant Truitjie het met 'n vorige besoek van die Advertiser geskerts dat haar goeie gesondheid en langslewendheid te wyte is daaraan dat sy met net een man getroud was.
'n Neef van haar van Kaapstad, Louis Spies berig dat tant Truitjie nog in goeie gesondheid was tot kort na haar laaste verjaarsdag. "Min mense kan terugkyk op so 'n goeie, gesonde en geseënde lewe. Haar kop was nog reg tot die einde."
Tant Truitjie het die afgelope jare 'n kamer in Onse Rus gedeel met 'n jonger suster van haar, tant Meisie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'