MOSSELBAAI NUUS - Die klank van singende vroue het besoekers gelei tot by Tulipstraat 14 waar Cathleen Roman (née Domingo), oftewel Tanie Cat, op Sondag, 20 Oktober 103 jaar oud geword het.
Die singende vroue was van All Saints Anglikaanse Kerk se vrouebond, waaraan sy jarelank reeds behoort.
Tannie Cat was saam met Magdalene Miller, ook desjare een van die stigterslede van dié kerk se brigade vir meisies en vroue, oftewel die die girls brigade.
Tydens die geselligheid, het Tannie Cat met aandag geluister na Moira Fillies wat die Woord en 'n eerbetoon gebring het.
"Die spreekwoord sê hoe gryser, hoe wyser en jy kan maar net met Tannie Cat gesels as jy die waarheid van daardie stelling wil ontleed." Fillies het gesê dat Tannie Cat 'n toonbeeld daarvan is dat innerlike vernuwing deel is van die onsigbare dinge, wonders wat net God kan bewerk.
Fillies het egter ook ewe tong in die kies vertel dat Tannie Cat haar jonger dae terdeë geniet het.
"Sy was lief vir partytjies en as sy nou nog 'n akkeltjie kon maak, sou sy ons 'n ding of twee kon wys." Fillies het gesê dat Tannie Cat hierin 'n navolgbare voorbeeld vir almal, en veral jonges gestel het deur te wys hoe 'n Christen gebalanseerd kan lewe.
"Sy kon haar geniet, maar met al die regte vermanings, that there is a limit to everything," het Fillies gesê.
Tannie Cat het al haar dank teenoor God uitgespreek vir haar lewe en gesondheid. Die enigste ding wat haar effe pla, is haar rolstoelgebondenheid, maar haar verstand is nog klokhelder.
"Ek kan alles onthou, selfs tot in my kinderdae toe. Ek is gebore en getoë in Mosselbaai. Vandag, is ek die oudste Domingo nóg."
Tannie Cat se nageslag is een seun, drie kleinkinders en vyf agterkleinkinders.
Sy is sover bekend, inderdaad die oudste van die Domingo's van Mosselbaai tot nog toe.
Omring deur haar kleinkinders en hulle lewensmaats sit Cathleen Roman (née Domingo) op 'n geseënde 103 jaar oud.
Cathleen Roman (née Domingo), oftewel Tannie Cat saam met haar agterkleinkinders op haar 103de verjaarsdag, Sondag, 20 Oktober. Langs haar is Gabby en Georgen Domingo en agter, Cazz Beddy, Evan en Heike Hartnick. Foto: Cornelle Carstens
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'