Update
MOSSELBAAI NUUS - Hoewel hy skaars 'n jaar op Mosselbaai gewoon en gewerk het, het die 34-jarige Hencor Combrink se ontydige afsterwe verlede week duidelik 'n geweldige impak op sy kollegas gehad.
Combrink, takbestuurder van die SSK Agriland op Mosselbaai, was op Woensdag, 12 Januarie in 'n fatale motorfietsongeluk betrokke.
LEES MEER: Georgeweg eis SSK-bestuurder
Kollegas het op Dinsdag, 18 Januarie na werk vir Combrink 'n gedenkdiens by die werk gehou. Verskeie afdelings het ook hulle huldeblyke met die Mossel Bay Advertiser gedeel.
'Bestuurder duisend'
Lede van die besproeiingsafdeling beskryf hom as 'n "bestuurder duisend" by wie hulle in die agt maande baie geleer het. Van die administratiwe beamptes beaam dit en verwys veral na Combrink se vermoë om hulle as 'n span te laat saamwerk – 'n span vir wie hy net die beste wou hê.
"Sy laaste woorde aan ons kassiere was – 'Sien julle dames môre'. Hencor het 'n baie mooi persoonlikheid gehad. Hy was geliefd onder almal en sal onthou word vir sy sagtheid, goedheid, opregtheid, asook sy vriendelike en behulpsame geaardheid," skryf administratiewe beampte, Anneke de Jager.
Combrink het, volgens winkelbemarker Ilze Pretorius in 'n baie kort tydjie baie diep in almal se harte gekruip.
Volgens die hoof van winkelverkope, Morné van Rensburg, was Combrink nie net 'n takbestuurder en kollega van SSK Agriland Mosselbaai nie, maar hy was 'n vriend en familielid.
"Sy kantoor se deur was altyd oop en hy het jou met liefde ontvang. Ons kon ons hart, frustrasie en vreugde met hom deel en hy het altyd reg gestaan om jou te motiveer op 'n rustige kalm manier."
Van Rensburg sê dat hy graag sy personeel se potensiaal ontwikkel het.
"Hy het groot drome gehad vir hierdie tak en sy lede."
Ruben Potgieter, junior winkelbemarker verwys na Combrink se morele nalatenskap.
"Hy was 'n man wat sy geloof en Christelike waardes deurentyd in sy werksplek weerspieël het. Ons het hom leer ken as 'n ferm persoon wat standpunt kon inneem, maar wat werknemers altyd met respek en empatie hanteer het."
Winkelbemarker Annel Barkhuizen beaam dit. "Waar Hencor sy voet neergesit het, het hy dit geëien. Alles ten gunste en goede tot voordeel vir SSK en personeel. Hy was ons 'one of a kind'."
Goeie luisteraar
Ester Saayman, bestuurder van die Agriland se geriefswinkel beaam dat Combrink 'n goeie luisteraar en altyd behulpsaam was.
"Ek het hom ervaar as `n man met baie insig en goeie mensekennis.
"Ons was gewoond dat hy soggens kom môresê."
Nielen Kortje, senior winkelbemarker in die tuinbou-afdeling waar Combrink begin werk het, verwys ook na sy luistervemoë en dat hy altyd 'n oplossing vir 'n kwessie gehad het.
Leonie Kuhn, senior ontvangbeampte beskryf Combrink met drie woorde – 'n ware leier.
"Ek sou nog so baie by jou wou leer. Dankie vir jou legkaartstukkie in my lewe."
In 'n hartroerende brief aan haar man wat sy met die Advertiser gedeel het, skryf Maryke Combrink dat dit vir haar 'n eer was om sy vrou te wees.
Hierin beloof sy om hulle seuntjie, Hannu (20 maande) na sy pa se wense groot te maak.
"Dankie vir Hannu, my grootste geskenk van jou af. Ek beloof om hom te leer van God en Sy grootheid en liefde.
"Hy sal ook weet wie sy pappa was deur die getuienisse wat ek elke dag met hom gaan deel."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'