MOSSELBAAI NUUS - Aldrich Kruger, 'n graad 5-leerder by Laerskool Park se kankerstryd duur voort nadat hy 'n operasie ondergaan het om sy skildklier en limfknoppe te verwyder.
Aldrich is met stadium vier papillêre skildklierkanker gediagnoseer. Die kanker het boonop na sy longe versprei.
Die kanker is ontdek toe Aldrich se ma, Lisa, hom dokter toe geneem het met 'n aanhoudende hoes. Aangesien hy gehoes het en die kliere in sy nek opgeswel was, het die dokter tuberkulose (TB) vermoed. Aldrich is vir verdere toetse gestuur. Hy het negatief getoets vir TB waarna die dokter besluit het om 'n biopsie van sy opgeswelde klier te doen. Dit het positief getoets vir kanker. Hulle was Rooikruis-kinderhospitaal toe gestuur, waar Aldrich nou behandel word.
Op Donderdag, 26 Maart het Aldrich 'n vier ure lank operasie ondergaan waar sy hele skildklier en die limfknoppe op die linkerkant van sy nek verwyder is. Hy het vir 'n paar dae verskriklik naar gevoel en geen eetlus gehad het nie, maar toe hy begin beter voel was die Krugers optimisties dat hy behandeling kon begin ontvang vir sy longkanker. Dit word nie met chemoterapie of radiasieterapie behandel nie, maar eerder met radioaktiewe jodium. Maar na 'n suksesvolle eerste dosis het 'n CT-skandering gewys dat Aldrich dubbele longonsteking ontwikkel het, wat eers met antibiotika behandel moet word voordat dokters voort kan gaan om sy longkanker te behandel.
Dokters verwag dat Aldrich volgende week huis toe sal kan gaan sodat hy kan versterk in afwagting van die radioaktiewe jodium behandeling, wat hy hopelik volgende maand sal kan ontvang. Daarna moet Aldrich elke ses maande terug na die Rooikruis-kinderhospitaal toe gaan vir hierdie behandeling.
Die tipe kanker waarna Aldrich ly kom nie dikwels voor in kinders nie en dus is Aldrich die eerste geval van papilêre skildklierkanker wat dokters by Rooiskruis behandel het. Daarom kan dokters nie sê wat die kanse is dat Aldrich totaal sal genees nie.
Aldrich se ma, Lisa, sê dat haar seun 'n vriendelike, barmhartige kind is wat mal is oor rugby en dans. Sy wil ook die Mosselbaai-gemeenskap bedank vir al die gebede en ondersteuning wat hulle al ontvang het. "Om 'n kind in die hospitaal te hê is emosioneel baie moeilik, maar julle bemoediging beteken baie vir ons."
'n Trust in Aldrich se naam is deur 'n plaaslike prokureur, Fiona Williams, gestig om die kostes in verband met Aldrich se behandeling te help dek.
Indien enige iemand 'n bydrae wil maak kan hulle Aldrich se ouers Lisa (082 624 3159) en Cornel (076 564 2011) kontak vir meer besonderhede aangaande die trust.
Vorige artikel: Steun11-jarige se kankerstryd
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'