MOSSELBAAI NUUS - Ná Stehan Knuppe (7) se verjaarsdag op 19 November sê sy ma, Cornel, dat dit al so goed gegaan het - tot en met April.
Stehan is al twee maal in sy kort lewetjie met kanker gediagnoseer. Mossel Bay Advertiser het verlede jaar oor hom berig ná hy ’n beenmurgoorplanting ondergaan het - sy ma was die skenker.
Midde-in alles bly hy steeds positief én op datum met sy gr. 2-skoolwerk van Laerskool Hartenbos af, sê Cornel.
“Stehan mag ongelukkig nog nie permanent skool toe gaan nie, so sy juffrou, Nina Mulder, help so baie om hom op datum te hou. Hy het ook ’n baie oulike tannie wat hom met sy werkies help.”
Cornel sê in April het Stehan moeilik begin asemhaal, waarna hulle Kaap toe is en sommer dadelik in die hospitaal opgeneem is.
“Ons was vir 12 weke aaneen in die hospitaal waar Stehan deur menige toetse gegaan het. Hulle het vir ’n hele ruk ’n longbiopsie beplan, maar sy longe is nie sterk genoeg om dit te doen nie.
“Ons is toe van die Rondebosch Mediese Sentrum na die Rooi Kruis-kinderhospitaal oorgeplaas, waar hulle uiteindelik vir Stehan met Graft vs Host Lung Disease gediagnoseer het. In ons maklike Afrikaans: My selle wat hulle vir Stehan oorgeplant het, is besig om sy longe aan te val,” sê Cornel.
Stehan Knuppe
Stehan is nou op ’n baie sterk medikasie om dit onder beheer te hou, maar dit beteken ongelukkig dat hy nou permanent op suurstof moet wees.
Volgens sy ma maak dit die rondbeweeg maar moeilik, maar hulle kon darem vir hom ’n draagbare suurstofmasjien kry wat die reise tussen Mosselbaai en die Kaap moontlik maak.
Hulle het sowat drie weke gelede huis toe gekom en het nou toestemming om Stehan se toetse hier tweeweekliks te doen.
“Dis die langste wat ons nog by die huis is vandat ons sy longdiagnose ontvang het.
“Met die kankergedeelte gaan dit nog baie goed. Hy is nog steeds op sy medikasie vir immuunonderdrukking, maar dit is al aansienlik minder.
“Die dokters praat van so ’n jaar plus wat hy nog op daardie medikasie moet wees.”
Stehan het ook onlangs ’n bietjie sy skool en maatjies besoek; Cornel sê dit was ongelooflik.
“Die maatjies het vir hom presentjies bymekaargesit, en hy mag elke dag een oopmaak. Elkeen het ’n datum op. Sy bokse met die presentjies in sê: ‘’n Presentjie ’n dag, laat vir Stehan lag’. Dis só ’n mooi gebaar.
Stehan saam met sy gr. 2-juffrou, Nina Mulder.
“Mnr. Werner van Huyssteen [skoolhoof] het ook verlede jaar vir Stehan sy eie toekenning gegee, en ’n pragtige nuwe toekenning by die skool geskep: Die Skoolhooftoekenning. Stehan is die heel eerste een wat dit ontvang het,” sê Cornel.
“Ons is so dankbaar vir ons gemeenskap. Ons kan nie genoeg vir almal dankie sê of almal noem wat deel van ons ondersteuning is nie.”
Vorige artikels:
- Klein Stehan sterk deur sy kankerstryd
- Fondsinsamelings vir Stehan vorder goed
- Meer as R14 000 ingesamel met staptog
- Stehan se beenmurgoorplanting verloop goed
- Stehan vier verjaarsdag saam met maatjies
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’