MOSSELBAAI NUUS - Dag 28 - dit is klein Stehan Knuppe (6) en sy ouers se volgende en naaste mikpunt in sy stryd met kanker.
Dag 28 beteken dis tyd vir 'n beenmurgbiopsie, wat sal bepaal of Stehan kan voortgaan met sy volgende ronde chemoterapie, vertel sy ma, Cornel. Dié biopsie vind Maandag, 27 Mei plaas.
Stehan is vir die eerste keer met kanker gediagnoseer toe hy maar vier jaar oud was.
Dit was neuroblastoom. Op 20 April 2022 het hy met chemo begin, is hy deur 'n hoë-risiko operasie, en nóg chemo, en uiteindelik kon hulle op 11 November 2022 die klok by Rondebosch Mediese Sentrum lui ná sy laaste ronde chemo.
"Wat ons betref het was daar net opvolge elke drie maande. Dan moes ons die tyd aftel tot op die twee-jaar-merk wanneer die dokters glo dit is onwaarskynlik dat die kanker sal terugkeer," sê Cornel.
"Ons het 'n geseënde 15 maande van kankervrye resultate gehad. Stehan kon sy eerste dag van graad 1 by Laerskool Hartenbos as 'n gesonde seuntjie bywoon en hy het soveel wonderlike maatjies gemaak. Sy juffrou het gesê hy is baie skerp en ons het by die hele familie gespog met sy eerste rapport.
"Maar ná 'n wonderlike Maart-vakansie het Stehan begin kla oor pyn in sy bene en ons het agter gekom hy kneus vinniger as gewoonlik. Op 23 April 2024 is ons brawe klein stryder met akute mïeloïede leukemie gediagnoseer."
Ten spyte van al hulle uitdagings, vertel Cornel as deel van Stehan se storie, dat die wonderwerke rondom hom eintlik al voor sy geboorte begin het. Sy pa, Dwayne, is in 2013 met medulloblastoom gediagnoseer.
Stehan, Cornel en Dwayne Knuppe.
Ná 'n lang jaar kon hy en Cornel die feit vier dat hy kankervry is, maar weens sy intense behandeling, sou hulle waarskynlik nie kinders van hul eie kon kry nie. Maar, "God het ons ná 2017 verras met ons wonderwerk-seuntjie."
"Hy was perfek. En is steeds. Die skerpste, slimste, snaaksste en aantreklikse seuntjie ooit. Ons is só geseën."
Wat tans vir Stehan voorlê is baie intense chemo, waarna hy, as alles volgens plan verloop, voorberei sal word vir 'n beenmurg-oorplanting," sê Cornel.
“Die beenmurgregister is redelik klein, en om ‘n skenker van oorsee te kry sal baie duur wees.”
Sy sê dit gaan nie net oor Stehan nie, maar ook om bewusmaking rondom hierdie tekort te skep. Maar, sê sy, mense kan ‘n verskil maak deur op die beenmurgregister te registreer – en dit is verniet.
Skandeer die QR-kode hier onder vir meer inligting en om te registreer:
"Ons moet dan medikasie van Duitsland invoer om sy laaste voorbereiding te voltooi. Dis omdat dit nie in Suid-Afrika beskikbaar is nie. Dié medikasie gaan ons 'n minimum van R600 000 kos."
Daar is dus verskeie fondsinsamelings-projekte aan die gang, en Cornel bedank elke betrokke persoon en organisasie uit die diepte van haar hart vir hul ondersteuning. Dit sluit in 'n paar plaaslike organisasies, Cupcakes for Hope, Laerskool Hartenbos as geheel en spesifiek die ouers van die graad een-rugbyspanne.
Besoek die Facebook-blad Our little warrior Stehan vir meer inligting oor die verskillende fondinsamelings.
"Stehan hanteer hierdie hele situasie soos 'n regte klein stryder. Hy is sy gelukkige self en as mens nie regtig die intensiteit van dié situasie verstaan nie, sou jy dink dat hy maar net nog 'n gesonde seuntjie is. Dit is vir ons as gesin 'n riem onder die hart, want sy gelukkige manier van lewe wys ook vir ons hoe sterk hy is en gee ons die moed om aan te hou baklei saam met hom," sê Cornel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’