MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai-gemeenskap is nou al bekend met klein Stehan Knuppe en sy moedige stryd teen kanker.
Talle fondsinsamelings is tans aan die gang om die jongeling en sy ouers, Cornel en Dwayne, finansieel by te staan in hierdie tyd.
Stehan is vir die eerste keer met kanker gediagnoseer toe hy maar vier jaar oud was.
Dit was neuroblastoom. Op 20 April 2022 het hy met chemo begin, is hy deur 'n hoë-risiko operasie, en nóg chemo, en uiteindelik kon hulle op 11 November 2022 die klok by Rondebosch Mediese Sentrum lui ná sy laaste ronde chemo.
Op 23 April 2024 is die brawe klein stryder egter met akute mïeloïede leukemie gediagnoseer.
Cornel, wat regdeur hierdie stryd 'n bewonderenswaardige positiwiteit volhou, het hierdie week gesê dit gaan heel goed aan hulle kant.
"Stehan is nou by die huis vir die week tot Vrydag, 12 Julie. Dan gaan ons nou weer vir bloedtoetse en hy sal dan seker weer bloedplaatjies en bloed kry.
"Verder doen hy so goed. Ons is so dankbaar vir almal wat ons ondersteun deur hierdie tyd. Stehan het nou sy laaste chemo ontvang en ons is nou in sy week waar sy tellings val en daarom die rede vir die bloed en plaatjies.
"Daarna moet ons net seker maak hy word nie siek nie, sodat ons hom kan begin voorberei vir sy beenmurgoorplanting. Hy het klaar sy clofarabine medikasie ontvang (dit is die medisyne van oorsee af)."
Sy sê hy kon ongelukkig net 60% daarvan inkry voor sy liggaam besluit het genoeg is genoeg.
"Die dokters was darem gelukkig met daardie persentasie en het gesê gewoonlik kry hulle net 20% in en dan gee die kinders se liggame mee. So dit is wonderlik dat Stehan so sterk deur dit is."
Ten opsigte van sy fondse wat inkom is hulle darm nou al amper by die R200 000 merk, wat Cornel sê ongelooflik is.
"Ek weet ons werk na R600 000, maar elke bietjie wat inkom help vreeslik. Ons het ook onlangs gehoor dat ons dalk die beenmurgskenker self moet betaal en dat die mediesefonds net die oorplanting kostes sal dra, wat beteken al die soek-kostes om daardie skenker te vind, val op ons as familie en dit sluit ook die crossmatch kostes in. So dis nie slegs die medikasie wat 'n groot uitgawe is nie."
Ronél Steyn, die ambassedeur vir Cupcakes of Hope het ook 'n Burgemeestersstaptog vir Stehan georganiseer.
"Ons is so dankbaar vir die Mosselbaai-munisipaliteit en die burgemeester, Dirk Kotzé, wat hierdie ongelooflike stap vir ons reël. Ons het ook 100 medaljes van Castings for Africa ontvang om hierdie spesiale geleentheid te vier."
Die staptog vind op Saterdag, 20 Julie plaas op die St Blaize Staproete en begin by Curro Mossel Bay. Die begintyd is 07:30 vir 08:00 en kostes beloop R100. Alle fondse gaan aan Stehan se fondsinsameling.
Bespreek jou plek by mayoroffice@mosselbay.gov.za of stuur 'n WhatsApp aan Aydn Parrott (079 1494 703).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’