MOSSELBAAI NUUS - Dit was nou dalk nie met die St Blaize roete langs nie, maar stap is daar verlede Saterdag vir Stehan Knuppe (6) gestap.
Stehan veg tans moedig teen akute mïeloïede leukemie, waarmee hy in April vanjaar gediagnoseer is.
As deel van fondsinsamelings vir sy behandeling het, The Cupcakes of Hope verlede week vir hom 'n burgemeesterstaptog georganiseer.
Die aanvanklike plan was om 6km van die St Blaize staproete te voltooi, maar ongure weer het 'n stokkie voor dié plan gesteek. Deelnemers het hulle egter nie so maklik laat onderkry nie, en sommer die 6km rondom Die Punt voltooi.
'n Totaal van R14 550 is met dié geleentheid ingesamel.
Stehan moet 'n beenmurg-oorplanting ontvang om sy kankerstryd te oorwin. Dié proses is egter geweldig duur en gaan sy ouers in die omgewing van R1m kos.
Besoek die Facebook-blad Our little warrior Stehan vir meer inligting oor die verskillende fondinsamelings.
Anke Brits en haar hond, Texas saam met Mia Vorster en haar woef, Nicki. Foto: Suzette Herrer
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’