MOSSELBAAI NUUS - Stehan Knuppe (6), die Laerskool Hartenbos-leerder wat al twee maal met kanker gediagnoseer is, het onlangs sy beenmurgoorplanting ondergaan.
"Dit gaan ongelooflik goed met Stehan. Hy is so 'n warrior," sê sy ma, Cornel - sy was die beenmurgskenker.
Sy sê dit is eintlik so 'n interessante proses.
Sy het voorheen verduidelik dat die herstelproses bietjie langer sal neem sou hulle nie 'n voldoende skenker kry nie, maar wonder bo wonder verwag hulle om hierdie week nog uit die Rondebosch Mediesesentrum ontslaan te word.
"Dit is dae gouer as wat die dokters vir ons beplan het. Ons kan regtig net ons Vader in die Hemel dankie sê vir hoe Hy ons dra op dié pad wat ons stap. Ons het Stehan se oorplanting gedoen op 3 September en nou is hy op die herstelpad.
"Ons mag nou nog nie teruggaan Mosselbaai toe as ons uit die hospitaal kom nie en moet vir nog so twee weke hier in die Kaap bly om seker te maak die bloedtellings tel op soos nodig.
"Onder alle omstandighede is die dokters almal bitter gelukkig met sy vordering en sê dat dit regtig ongelooflik is dat hy klaar reg is om te kan uitgaan."
Na hulle ontslaan word sal hulle elke week vir die volgende drie maande nog 'n afspraak in die Kaap hê om die bloedtellings na te gaan.
Dit is ook hoe lank dit neem vir die beenmurg om weer terug te keer na normaal.
"Dit was defnitief 'n suksesvolle oorplanting en die ongelooflikste ding vir my is dat Stehan nou 'n nuwe bloedgroep is. Hy was AB+ en ná die oorplanting is hy nou B+ (my bloedgroep)."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’