MOSSEL BAY NEWS - Die Mossel Bay Community Soup Drive (MBCSD) gaan Saterdag, 16 Desember, om 12:00 hul jaarlikse kersfees partytjie hou by die Gemeenskapspark op Mosselbaai.
"Die Venter gesin is in beheer van die beplanning van dié jaarlikse Kersfees-partytjie. Rosie, Jaco Venter en gesin, is reeds vir maande betrokke by die MBCSD as vrywilligers en met die samewerking en hulp van die ander vrywilligers het die Venters vanjaar 'n partytjie aanmekaar gesit, wat moeilik oortref sal word," sê William Sam, voorsitter van die MBCSD.
Die gemeenskap word uitgenooi om vanjaar getuie te wees met die oorhandiging van lekkergoed- en geskenkpakkies vir byna 1 000 kinders. Jaco die Nar, gesigverf-kunstenaars, plaaslike kunstenaars, kulkuns, Mnr en Mej Soup Drive 2023 en danskompetisies sal alles deel wees van die verrigtinge. Vader Kersfees gaan die strate van Highway Park en Civic Park deurkruis op 'n opgemaakte bakkie met twee elfies terwyl lekkers uitgedeel word met kersliedere en nog vele meer.
Met natuurlik die beste klank in Mosselbaai geborg. Die MBCSD is 'n geregistreerde nie-winsgewende organisasie (NWO).
Daar sal fantasiese pryse op die spel wees vir die modelkompetisie. Kinders wat aan die kompitisies gaan deelneem moet reeds van 11:00 die oggend begin inskryf en Rosie Venter junior, Mosselbaai se talentvolle model wat volgende jaar gekies is vir die mej Junior SA, is een van die beoordelaars.
"Dit beloof om 'n dag te wees van baie pret, maar ook 'n dag waarin kinderharte bly gemaak gaan word." Volgens Sam benodig hull nog klein koeldrankies of sappies. "Dankie aan almal wat reeds skenkings en donasies gemaak het," sê Sam.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’