MOSSELBAAI NUUS - Gisteraand, 3 Desember het ‘n jong vrou op die Hamelkop-pad beheer oor haar voertuig verloor waarna die voertuig tot op sy dak gerol het.
Die vrou is gelukkig ongedeerd na die ongeluk. Dit bring egter weer die soeklig na die toestand van dié stuk grondpad wat die toegang van en na verskeie plase in die omgewing is.
Verskeie ongelukke is in die verlede op die stuk pad aangemeld. ‘n Tyd gelede het ‘n vrou met haar Toyota Etios bykans by die sykant van die pad in die vallei afgestort.
“Ons grondpad is ontsettend sleg en dit, ‘n week nadat die pad geskraap is. Die pad moes al ‘n paar jaar gelede gruis gekry het, maar daar is gesê dat daar nie geld beskikbaar is om die pad te gruis nie,” vertel ‘n inwoner van die gebied.
Volgens die inwoner is baie plekke net skoon grond. Daar is ook glo op ‘n plek pype onderdeur die pad wat oop is en al so stukkend gery is dat dit ‘n gevaarlike gat vorm. “Daar word minimale onderhoud gedoen op die pad en hier is baie boere in die omgewing wat die pad gebruik en vele ander gebuik die pad ook,” sê die inwoner.
Inwoners kla dat niemand iets daadwerklik aan die pad doen nie en nou word hulle die slagoffers.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'