Update
GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Polisiebeamptes moes op Dinsdag, 24 Julie ingryp toe stakende werkers van die Watson Skoenfabriek op Groot-Brakrivier, Stasieweg met klippe en brandende bande versper het.
Die werknemers staak reeds vir 'n derde week en is lede van die National Union of Leather and Allied Workers Union (Nulaw), 'n filiaal van die vakbondfederasie Fedusa. Hulle is deel van 'n landswye staking en eis 'n salarisverhoging van 9,5% en langer gesinsverantwoordelikheid verlof. Die werkgewer bied 6,25% aan.
Sersant Chantel Marais, woordvoerder van die polisiestasie op Groot-Brakrivier sê 'n bakkie het kort voor die voorval 'n vrag bande by die fabriek afgelaai.
Die verkeer het vir 'n geruime tyd opgehoop weens die versperring waarna Mosselbaai brand- en rampbestuursdienste die brandende bande geblus het. Teen druktyd het Nulaw bevestig dat die staking steeds voortgaan.
"Geen ooreenkoms kon bereik word tydens vergaderings wat op Dinsdag, 24 Julie gehou is nie. Werkgewers weier om in gesprek te tree met vakbonde.
Dus gaan die staking voort tot 'n aanvaarbare aanbod deur Saflia, die werkgewersorganisasie op die tafel gesit word."
Die polisie moes ingryp nadat stakers bande op die padoppervlak aan die brand gesteek het.
Stasieweg voor die Watson-skoenfabriek is vir 'n geruime tyd versper.
Mosselbaai brand- en rampbestuursdienste het die brand geblus.
Lees vorige artikels hier:
'Ons bring jou die nuutste Groot-Brakrivier, Tuinroete nuus'