Update
MOSSELBAAI NUUS - Devan Williams (7) wat op Woensdag, 12 Junie raakgery is nadat hy vanaf Laerskool Hartenbos na sy huis op Sonskynvallei gestap het, is in 'n geïnduseerde koma in die Rooikruis-kinderhospitaal.
Sy ma, Evelyn Williams (40) is by hom en sê dit gaan onder omstandighede met hom goed.
"Hy het infeksie in sy bors en die dokters sal binne die volgende week sy been opereer om 'n plaat en skroewe in te sit. Hy het ook ernstige kopbeserings opgedoen, maar ek gesels met hom en dan druk hy my hand en sy een ogie flikker."
Devan was te voet in die rigting van Sonskynvallei toe 'n Huyndai H100-trokkie wat onderweg in die rigting van Oudtshoorn na Hartenbos was hom getref het. Volgens die Da Gamaskop-polisie het Devan aan die linkerkant van die pad geloop en na bewering voor die voertuig ingehardloop.
Hy is aanvanklik per ambulans na die Mosselbaai provinsiale hospitaal vervoer. Hy is oorgeplaas na George provinsiale hospitaal waar hy in 'n kritieke toestand in die hoësorgeenheid behandel is. Devan is vanaf George per helikopter na die Rooikruis-kinderhospitaal oorgeplaas.
Devan maak gewoonlik gebruik van 'n bussie wat hom skool toe en terug vervoer. Sy ma sê sy weet nie hoekom hy op die betrokke dag nie van die vervoer gebruik gemaak het nie.
Die polisie ondersoek 'n saak van roekelose en nalatige bestuur.
Lees vorige artikels hier:
Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'