Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - By Gentswanastraat 121 woon 'n vrou met 'n hart so groot soos 'n taxi. Soos die gesegde in die volksmond lui, is daar altyd plek vir nog een. Maggie Nguta sê dat haar sorgsaamheid teenoor haar medemens iets is wat in haar familie loop.
Sy bedryf die Nokuthula-sentrum waar verstandelik en fisies gestremde persone van alle rasse aansterk nadat hulle gehospitaliseer is.
As 'n geregistreerde nie-winsgewende organisasie, werk sy nou saam met die departement van gesondheid, die plaaslike tak van die vereniging vir gestremde persone (Association of People with Disabilities oftewel APD) en die departement van sosiale ontwikkeling. Laasgenoemde poog in sekere gevalle om heemloses met hulle families te herenig waar moontlik.
Nokuthula is enig in sy soort in Mosselbaai.
Fotogalery: Nokuthula-sentrum is Maggie Nguta se hartsaak
"Ek het onlangs tot 12 mense hier versorg," berig Maggie. Sy sê dat haar werk haar baie gelukkig maak en uit haar vertelling is dit duidelik dat keurige sorg vir haar uiters belangrik is. Al haar "loseerders" is uit haar sorg weg, heelwat beter af as toe hulle daar aangekom het.
Kyk 'n video hieronder:
Maggie was 'n kok by die destydse Santos Hotel, maar toe die hotel toemaak het sy vir tye by die plaaslike hospitale gewerk. Reeds in daardie dae, vertel sy, het sy 'n hawe aan gestremde en siek kinders gebied. Haar eie twee seuns het, soos sy ook as kind, geleer om saam met pleegkinders groot te word en het hegte gesinsverhoudings op die manier gevorm.
Maggy Nguta is 'n vrou met 'n groot hart. Foto: Jannie du Plessis
Groot behoefte
Tans huur sy 'n huis langs haar eie teen 'n bedrag waar sy hulpbehoewendes versorg en agter haar huis, is 'n addisionele struktuur opgerig om behuising te bied. Beide laat egter veel te wense oor. Die huurhuis het geen plafonne en slegs een badkamer waarvan die toilet nie 'n behoorlike sitplek het nie. Van die vensters is nie in 'n behoorlike werkende toestand nie. Desondanks heers daar vrede onder die inwoners en blyk hulle goed versorg te wees. Die informele sinkplaatstruktuur, waar twee bejaarde vroue tans woon, is so knus moontlik ingerig, maar omdat dit nie dig is nie, is lae temperature, wind en reën 'n uitdaging.
Maggie word tans bygestaan deur Marilyn Collins van Rheebok wat met fondswerwing en borgskappe help. Marilyn vertel dat sy haar lewe lank nog droom van welwillendheidswerk.
"Ek wou eintlik 'n maatskaplike werker wees, maar my pa wou dit nie toelaat nie. Nou na my aftrede, kan ek my droom uitleef."
Twee vroue wat dieselfde welwillendheidstaal praat - Maggy Nguta en Marilyn Collins.
Nokuthula het aansoek om hersonering gedoen met die oog daarop om 'n gebou op te rig waar toepaslike sorg en huisvesting gebied kan word.
"Dit mag nog 'n hele ruk neem en dan gaan ons hulp met die bouprojek benodig. Intussen, is daar baie behoeftes, kort- sowel as mediumtermyn," verduidelik Marilyn.
Die sentrum ontvang geen subsidie nie, maar wel skenkings van enkele besighede en individue.
"Ons is besig om te onderhandel vir kosskenkings. Groente is 'n groot nood aangesien ons skenking sonder verduideliking opgedroog het. Matrasse, bedlinne en gordyne is ook noodsaaklik. Daar is behoefte aan boumateriaal vir die huurhuis, asook die informele struktuur. En Maggie se stoof is besig om in te gee. Sy kook tans op slegs een van ses plate. Ons doen werklik 'n beroep om enigiemand wat Maggie kan help om met haar verdienstelike werk voort te gaan, om na Nokuthula uit te reik."
Vir meer inligting, kontak Maggie Nguta (063 002 7941) of Marilyn Collins (084 513 4122 en marilyncollins591@gmail.com)
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'