Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die Seemeeupark Support Network NPC (SSNNPC), 'n geregistreerde nie-winsgewende maatskappy wat onlangs deur inwoners van dié woonbuurt begin is, is ernstig wanneer dit oor die veiligheid, sekuriteit en welbehae van Seemeeupark en sy inwoners gaan.
Tydens 'n bekendstellingsgeleentheid van die maatskappy, het Quintin Greyling, die hoof uitvoerende beampte van die instelling, verduidelik dat die inisiatief hoofsaaklik ten doel het om, deur doelgerigte en effektiewe voorkomingsmaatreëls, die woonbuurt te beveilig en vry van misdaad te hou.
Bykomende sake soos natuurbewaring en sosiale ondersteuningsaksies, word ook deur die instansie aangespreek, het hy bygevoeg.
Die inwoners se ondersteuning en geldelike bydraes, het die maatskappy in staat gestel om 'n plaaslike, gevestigde sekuriteitsmaatskappy aan te stel wat voortaan gespesialiseerde patrolerings- en reaksiedienste gaan lewer.
Hierdie inisiatief sal deur die Seemeeupark Support Network NPC befonds en bestuur word en tot diens van die hele Seemeeupark-gemeenskap wees. Volgens Greyling, het die inisiatief begin uit die bedrywighede van die huidige gemeenskapsveiligheidstrukture, waaraan sekere inwoners reeds deelneem deur sigbare patrollering toe te pas.
Inwoners wat nie noodwendig oor die logistieke en/of operasionele vermoë beskik om praktiese uitvoering te gee aan patrollies nie, het hul begeerte uitgespreek om ook op een of ander manier 'n konstruktiewe bydrae te lewer.
Raak betrokke
Gert Janse van Rensburg, 'n direkteur, en ook die tesourier van die bestuursraad, het beklemtoon dat dit die maatskappy se begeerte is om te alle tye deursigtig en met die nodige wedersydse respek teenoor mede-inwoners te handel om te verseker dat die gemeenskap se belange te alle tye voorkeur geniet en gekoester word.
Hy het verder 'n uitnodiging gerig aan alle inwoners, om betrokke te raak en die nodige ondersteuning aan die instansie te bied, ten einde die proses volhoubaar en suksesvol deur te voer.
Burgemeester, raadsheer Dirk Kotzé, het die gemeenskap geluk gewens met die inisiatief, en verder vermeld dat die munisipaliteit eweneens veiligheid en sekuriteit as hoë prioriteit beskou. Kotzé het voorts ook verwys na die JOC (Joint Operation Centre) wat eersdaags op 16 Augustus amptelik ge-open word.
Hy het sy hoop en begeerte uitgespreek dat die gemeenskapsprojek suksesvol sal wees, en 'n positiewe bydrae tot die groter raamwerk van gemeenskapsbeveiliging, in samewerking met die JOC, sal lewer.
Riaan Cruywagen, bekende nuusleser van die SAUK, en ook nou 'n plaaslike inwoner van Seemeeupark, het sy gelukwense oorgedra en sy dankbaarheid en waardering teenoor die bestuurspan betuig vir die uitmuntende gemeenskapsdiens wat deur die instelling, en elke betrokke persoon, gelewer word. Vir meer inligting oor die Seemeeupark Support Network NPC, of om 'n bydrae te maak tot die fonds, kan 'n e-pos gerig word aan seemeeuparksn@gmail.com of by www.seemeeupark.co.za.
VIDEO - Seemeeupark-gemeenskap neem voortou (Video: Jannie du Plessis ).
Vorige artikel: Seeumeeupark een stap voor
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'