Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Kinders van die Hoogekraal gemeenskap het die afgelope paar weke elke Saterdag bymekaar gekom om draadkarre te bou vir die Draadkar-Fees wat Saterdag, 6 Mei, gehou is.
Die doel van die draadkar-bouery is om kinders en hul ouers saam te smee, nuwe vaardighede te leer en die jong tieners produktief besig te hou.
Só het Sareltjie Pietersen van die eerste Saterdag alleen daar aangekom en niks van dié aktiwiteit geweet nie. Maar onder die waaksame oog van pastoor Persent Samuals, een van die mentors, het hy vinnig geleer en elke naweek teruggekom en al hoe vaardiger geraak. Mettertyd het Sareltjie ook die ander kinders begin leer en gehelp om draadkarre te bou.
Volgens Johan Hewitt van die Hoogekraal Gemeenskap in Blou, beskou hulle Sareltjie nou as 'n meester Draadkar-bouer. Hy het ses draadkarre vir die kompetisie ingeskryf en dieselfde middag van die fees, weer begin karre bou om te verkoop.
Drie ander seuns wat voorheen dikwels in die moeilikheid was, het nou saam met Sareltjie begin draadkarre bou.
Johan vertel: "Hy het 'n kontant-prys ontvang vir sy draadkarre en het dit dadelik vir sy ma gaan gee om vir die huis te gebruik. Sy ma het egter gesê dis sy eie geld en Sareltjie het toe vir sy tannie gevra om vir hom Grassies skoene daarmee te koop."
Dewald de Kock, voorsitter van die Outeniqualand Plaaswag, vertel dat hulle, die GPF en Gemeenskap in Blou, beplan om 'n bloudruk van die draadkarre op te trek en die kinders kan dan op bestelling byvoorbeeld 'n Toyota Cruiser draadkar maak. "Ons is verheug dat die aanvanklike gemeenskapsprojek ontwikkel in 'n volhoubare projek wat die kinders ophef uit hul omstandighede en hoop gee vir 'n beter toekoms."
Indien die publiek wil bydra tot die materiaal en ander benodigdhede vir die draadkarre, kan hulle vir Dewald kontak op 082 411 6784.
VIDEO - Sareltjie Pietersen, van Hoogekraal het die afgelope paar weke ontpop as 'n meester draadkar-bouer.
Kinders van die Hoogekraal gemeenskap besig om aan die draadkarre te werk vir die draadkar-fees wat op 6 Mei gehou is. Die volgende fees is by die Friemersheim Primere Skool.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’