Update
MOSSELBAAI NUUS - Die gemeenskap van Mosselbaai het opnuut met leedwese verneem van die dood van 'n geliefde gemeenskapsleier. Danny Saayman (48) is op Donderdag, 18 Februarie tydens siekverlof tuis onverwags aan 'n hartaanval oorlede.
Saayman was ‘n direk-verkose DA-raadslid van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit waar hy Mosselbaai verteenwoordig het. Hy was bekend vir sy geestige geaardheid en het 'n uitgebreide vriendekring, ook in opposisie-geledere gehad. Ten spyte van sy kenmerkende gekorswel, het hy sonder skroom sy standpunt gestel en gehandhaaf.
Saayman is oorspronklik van Tiervlei in die Kaap. Sy familie het na Mosselbaai verhuis gedurende die skooljare en hy het matriek aan Hillcrest Sekondêre Skool voltooi.
Hy was ook geliefd as 'n oud-rugbyspeler en het in potspel uitgeblink. Danny het as stut vir Barbarians-rugbyklub opgedraf en later sy gewig as afrigter by Garden Route-rugbybklub ingegooi. As potstelspeler het hy verskeie klubs tydens die SWD se deelname aan nasionale kampioenskappe verteenwoordig.
Volgens 'n jarelange vriend en woordvoerder die vir familie, Ruben James was die welstand van die gemeenskap vir Danny van kardinale belang. "Sy eerlikheid, doelgerigtheid en integriteit het gemaak dat politieke leiers hom nie kon miskyk nie."
Volgens James het Saayman die unieke vermoë gehad om spanningsvolle situasies maklik te ontlont. "Hy kon mense laat saamstaan. Sy sêgoed sal ons baie, baie mis."
Die gemeenskap sal Saayman onthou as DA-aktivis en voorsitter wat in wyksraadslid Niklaas Booisen se wyk werksaam was.
Hulle het jarelank saam by AfroFishing gewerk en ook saam op politieke asook rugbystrukture gedien.
"By uitstek was Danny 'n gesinsman. Hy het altyd met lof van sy vrou, sy pa en sy mense gepraat."
Booisen noem sy afgestorwe vriend en kollega 'n sagmoedige reus wat omgegee het vir gemeenskap en hulle met passie gedien het.
"Hy was baie lojaal en deel van my lewe, behoorlik soos 'n kind in my huis."
“Ek het ‘n vriend verloor. Danny Saayman was ‘n plaatjie met ‘n besondere sin vir humor. Hy het diep spore in sy gemeenskap en in DA-geledere nagelaat," sê Mosselbaai se waarnemende uitvoerende burgemeester, raadsheer Dirk Kotzé.
Saayman laat sy vrou, Amanda, twee dogters en 'n kleinseun agter. James sê dat Saayman besonder lief vir sy sewe maande oue kleinseun was.
"Danny het elke maand vir sy kleinseun 'n koek gekoop. Toe hy ses maande oud word, het hulle 'n halfjaarpartytjie gehou."
Danny Saayman word môre, 27 Februarie begrawe. Die huisdiens is om 09:00 en die kerkdiens om 10:00 by House of Mercy-gemeente. 'n Verbyrydiens na sy huis in Rasmenistraat, KwaNonqaba is gister, Donderdag 25 Februarie gehou om sy lewe te gedenk.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'